Hebreërs 12: 1-3
Daar is ’n storie wat vertel van twee gelowiges wat verlore geraak het in die woestyn. Albei van hulle was omring deur sand en son. Een van die gelowiges val op sy knieë met ’n geroep: Here, waarom het U my in hierdie woestyn gesit, hier gaan ek sterf! Die ander gelowige val ook op sy knieë neer met ’n geroep: Here, wys my die pad om weer die beskawing te vind, sodat ek kan leef. Albei gelowiges roep uit na God, maar net een sou uit die woestyn stap. Albei gelowiges was in gebed, maar net die een met ’n vooruitsig het oorleef.
Daar is altyd die gedagte wat in ’n mens leef om nie te vinnig optimisties te raak nie en om versigtig met jou verwagtinge te wees. Iemand het eens vir my gesê: Keep your hopes high, but your expectations low.
Tog herinner die skrywer van die Hebreërs-brief ons aan Jesus. Dat Hy selfs die skande van die kruis kon verduur, omdat Hy ’n vooruitsig gehad het. Ek is seker as Jesus op die pad na Golgota hierdie vooruitsig met die mense gedeel het, sou hulle lag. Niemand sou Hom glo nie, maar sy verwagting het gemaak dat Hy kon volhard. Vandag sit Hy aan die regterhand van God, omdat Hy die kruis verduur het. Sy vooruitsig het sy volharding bepaal.
Ons het ook baie uitdagings in die lewe en ons bevind ons ook baie keer in die woestyn. Ons almal het al gevoel of ons omring word deur sand en son. As jy nou op jou knieë sou uitroep na die hemele, hoe sou jou gebed tog lyk? God gee aan ons ’n vooruitsig om na uit te sien en dit is ons aansporing om alles in die lewe te verduur en die wedloop te voltooi.
Ds Juan de Beer, Parys
