Handelinge 15: 1-19 

In Handelinge 15: 1-19 lees ons dat die vroeë kerk in Jerusalem vergader. Tydens die vergadering kom ’n paar gelowiges wat voorheen Fariseërs was, na vore en sê dat die nuwe bekeerlinge besny moet word en dat hulle die wet van Moses moet onderhou. Ons moet besef dat die saak baie belangrik was. Dit kon die skeur van die vroeë kerk veroorsaak. Al die werk wat die apostels gedoen het, al die sendingreise, kon deur dié kwessie in die wiele gery word.

Daarom staan Petrus en Paulus in die vergadering op. Nie net om die skeuring van die kerk te verhoed nie, maar ook om die ware leer en God se koninkryk te verdedig. Hulle stel dit dat die besnydenis en die wet van Moses randsake is en dat dit onbelangrik is as ’n mens na die groter prentjie kyk.

Hy stel dit dan aan die Fariseërs en die vergadering dat God die inisiatief geneem het, en dat dit die kernbelangrike saak is. Die heidene het nie vir God uitgekies nie, maar God het hulle na Hom toe geroep.

God meet die vreemde volke aan hul harte, die wyse waarop hulle leef. Vir God gaan dit nie oor ’n persoon se nasionaliteit, die feit of hy ’n Jood of ’n heiden was nie. Dit maak nie eens vir God saak of ’n persoon besny is of nie. Dit is volgens Petrus en Paulus randsake. In stede daarvan dat die vergadering op die besnydenis fokus, moet hulle eerder op God se genade en liefde vir alle mense fokus. Dit moet hul denke oor die heidennasies bepaal en reël.

As ons vandag oor die Gelofte nadink, maak ons maklik dieselfde denkfoute as die Fariseërs. Ons fokus op randsake en verloor dan die kern van die saak uit die oog. Ons dink die gebeure rondom die Gelofte handel oor die Afrikanervolk of die politiek. Dit is egter ’n fout. Die Gelofte handel oor God en oor hoe Hy uit liefde en genade die lewens van gelowiges betree en uitkoms bied.

Ds Petrus Dreyer, Seestergemeente Brackenhurst

af
af
Copy link