Prediker 3: 1-15

Prediker is ’n boek met meer vrae as antwoorde, ’n boek wat worstel met die teenstrydighede – die pole van die lewe. In hierdie hoofstuk sien ons die pole. Dit wys op die seisoene van die lewe – ’n tyd om geboorte te gee en ’n tyd om te sterf…

So gaan die hoofstuk aan en ons hoor die pendulum van die horlosie tik tussen die pole, maar wat lê tussen hierdie pole? Dit is die lewe. Solank as wat ons lewe, beweeg ons tussen hierdie pole van lewe en dood, van hartseer en blydskap, van oorlog en vrede…

Om tussen hierdie uiterste pole te wees, beteken dat ons lewe. Dit sluit baie sterk aan by ’n ander tema wat in die boek voorkom. Dit is die idee van voluit lewe, carpe diem (gryp die dag). Die gedagte om voluit te lewe, klink amper ook sinneloos, maar dit is so eie aan die boek wat gekenmerk word deur ’n stryd met die teenstrydighede in die lewe.

Prediker het die mense se tradisionele opvattings bekyk en tot een slotsom gekom: Die mens sal vir altyd met God se misterie saamleef (3: 14-15). Die mens sal God en sy werke nooit kan begryp nie, en die mens kan nie sy/haar lewe bepaal nie. Soos wat die skepping aan seisoene gekoppel is, lewe die mens tussen goed en kwaad, hartseer en vreugde (7: 13-14). Die feit dat die mens kan eet en drink, is ’n gawe uit God se hand. Prediker moedig die mens aan om elke dag uit God se hand te lewe (2: 24-26; 3: 12-13, 22; 5: 17-19; 6: 6; 8: 15; 9: 7-10). Elke dag is ’n gawe uit God se hand, leef daardie dag voluit sonder om te tob oor gister of te bekommer oor môre. Aanvaar vandag as ’n geskenk van God en leef voluit en dankbaar voor God.

Erkentlik deur die dae, so lank as ek bestaan,

wil ek my blydskap uitsing; in ootmoed voor Hom gaan,

omdat Hy my versadig, omdat ek niks verlang

as wat ek uit sy hande so onverdiend ontvang.

(Gesang 521: 2)

Prof Ananda Geyser-Fouché, Universiteit van Pretoria: 

Share via
Copy link
Powered by Social Snap