Lukas 12: 13-21

Wat ek het, is myne. Ek het hard gewerk daarvoor. Ek deel dit met niemand.

Wat ek het, het God vir my gegee. Ek het daarvoor gewerk met krag en genade wat ek van Hom ontvang het. Ek sou niks gehad het as God my nie geseën het nie.

Ons ontmoet in hierdie gelykenis ’n ryk boer met baie plase en groot skure. Aan groot oeste was hy gewoond. Jesus spreek nie die feit aan dat hy ryk was of baie besit het nie, maar wat hy daarmee gemaak het en watter plek dit in sy lewe inneem. Volgens die wêreld waarin hierdie gelykenis afspeel, mag iemand nie sy rykdom vir homself gehou het nie. Hy moes dit deel met minderbevoorregtes, omdat God hom deur hierdie rykdom geseën het.

Wanneer sy oes groter is as wat hy verwag het, doen hy ’n vreemde ding. Hy breek die skure wat hy het af en bou nuwes. So asof hy daarmee wil sê dat hy genoeg geld het om enigiets wat op sy pad kom, te kan hanteer. Hy kan seker maak dat hy genoeg het sodat hy nooit honger sal ly nie. In dit wat hy doen, hoor jy nêrens dat hy die erkenning vir hoe goed dit met hom gaan aan God gee nie. Jy hoor nie by hom dankbaarheid nie. Al wat ’n mens hoor, is hoe hy planne maak en vir homself sorg. Hy dink net aan homself. Hoor hoe praat hy oor sy groot oes waarmee God hom seën: mý graan; ék het baie goed wat mý vir baie jare sal hou… ék!

Daar is iets waarmee hy nie rekening gehou het nie – te midde van al sy rykdom en voorsorg, word sy lewe skielik van hom af weggeneem, en wat help alles hom nou? Wat maak ons met dit waarmee God ons seën? Hou ek dit en maak net meer en meer bymekaar, of gaan deel ek van dit met hulle wat in nood is? Onthou: Wat ek is, is net genade; wat ek het, is net geleen…

Dr Robert Jones, Villieria/Derdepoort

Share via
Copy link
Powered by Social Snap