Lukas 5: 3

Jesus spreek die woord waarop Simon die net uitgooi, terwyl Hy die skare van die skuit af leer. Jesus se preek is ’n kardinale deel van die verhaal. Daar is identiteit tussen Jesus se woord en dit wat daarop gebeur. Die woord bring die wonder van die heil, dit bewerk die heil. Die woord is self daad, dit praat nie oor iets nie, maar doen waarvoor dit gestuur is.

En ons kan die vergelyking ook omkeer: Die daad is self ook weer woord. Die wonder wat op die woord volg, is self ook woordgebeure. Die daad moet as woord verstaan word, want daad en woord is identies. Verstaan ons dit so, kan dit maklik gebeur dat die wonder ook by ons gebeur, by ons as die volgende hoorders van die woord.

In elk geval, God handel deur sy woord en deur dit so te doen, respekteer Hy ons vryheid, want as ons wil, kan ons ons ore toehou vir sy woord, of ons kan luister. Maar omdat Hy in sy woord handel, lei Hy ons uit ons eiegemaakte gevangenis uit, die vryheid in.

Die woord van God roep ons tot geloof, want woord van God en geloof aan ons kant hoort onlosmaaklik saam. Omdat God geloof by ons wil wek, openbaar Hy Hom as woord. Die woord verwag van ons om ons geseglik te hou en om op dit wat aan die woord kom, te vertrou. Sy woord is bemoedigend en vol belofte, en so wek Hy ons geloof. Wanneer God gelowiges van ons wil maak, kan dit nie anders nie, ons bly dan op sy woord aangewese. Om meer te wil hê as die woord, beteken dat jy met minder gaan eindig.

Spreek Heer, spreek Heer, want u kinders luister.

Net u Woord, Heer, bring weer lig in duister.

(Gesang 254)

Dr Piet Boshoff, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link