Lukas 7: 11-35

Ons Here, Jesus Christus, se koms na die aarde was die vervulling van ’n baie groot verwagting! Vir baie jare het die Here se mense gelewe in die verwagting dat God ’n verlosser sal stuur, een wat die troon van Dawid weer in ere sou herstel. Ons Here se koms na die aarde het saamgeval met een van die moeilikste tye in die volk se geskiedenis. Eers was dit die Grieke en toe die Romeine wie se juk swaar op hulle gedruk het. Hul eie leiers was min en swak. Die skape was uitmekaar gejaag, ’n maklike prooi vir wolwe. Dit was in hierdie wêreld waar die epifanie van ons Here, Jesus Christus, deurgebreek het. Ja, so anders as verwag!

So dikwels kyk ons ook na die wêreld rondom ons en worstel ons soos Johannes die Doper met die twyfelvraag: Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag? (Luk 7: 19).

Soms vra ons nog moeiliker vrae: Waar was God toe dit of dat gebeur het? Hoe kan God ’n God van liefde wees en dit toelaat? Ons lees dat Hy ’n weduweemoeder se hartseer omgekeer het toe haar enigste seun dood is. Ons lees dat Hy siekes genees, blindes laat sien, dowes laat hoor. Sy boodskap het selfs vir die armes hoop gegee. Waarom doen Hy dit nie altyd nie?

Wat antwoord ons Here, Jesus Christus? Vir sy kosbaarste van die kosbares, Johannes die Doper, gevange in ’n dodesel, het Hy geantwoord: Gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie (Luk 7: 23). Ja, die lewe is nie altyd soos ons dit verwag nie, maar gaan kyk mooi, God het reeds met die herskepping begin.

Gebed

Liefdevolle Vader, maak ons oë en ons harte oop om te sien. Help ons om verder te kyk as die horisonne van hierdie stukkende wêreld. Amen.

Ds Stephan Botha, Rustenburg-Suid

Share via
Copy link
Powered by Social Snap