Johannes 1: 29-34

Johannes moes bontstaan en aan die Joodse priesters en Leviete verduidelik waarom hy mense doop. Destyds is mense wat uit ander volke by die Joodse groepe aangesluit het, gedoop. Johannes doop egter mense wat Jode is, wat dus reeds deel is van die volk. Hoekom, wou hulle weet.

Die volgende dag, wanneer Jesus na Johannes aangestap kom, kondig Johannes aan (vers 29, AFR2020): Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Johannes is reguit. Hy noem die ding by die naam: die sonde van die mens. Die opmerking is reeds ’n heenwysing na die kruis en kruisdood van Jesus, Hy brei uit oor wie hierdie Jesus is. Jesus is die belangrikste. In menslike jare is Jesus eintlik jonger as Johannes en begin Hy ook ná Johannes optree.

Sy belangrikheid lê nie in sy mensheid nie, maar in sy Godheid. Hoekom kan Johannes sê dat Jesus die Seun van God is? Hy getuig vanuit wat hy self gesien en beleef het: die Gees wat uit die hemel neerdaal soos ’n duif en wat op Jesus gebly het. Ook ek het Hom nie geken nie, maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het vir my gesê, ‘Hy op wie jy die Gees sien neerdaal en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ En ek het gesien en getuig, ‘Hy is die Seun van God.’

Die volgende dag herhaal Johannes die opmerking van Jesus as die Lam, wanneer Jesus verby Johannes en Andreas en ’n ander dissipel stap. In die tyd van Epifanie gaan dit om die koms van God se nuwe werklikhede. Hierdie werklikheid is ook op ons gerig, Dit is ook vir ons beskore, gegéé, sodat ook ons daarin en daaruit kan lewe. God se nuwe ryk het met krag in ons wêreld ingebreek. Kyk en sien Hom raak vir wie Hy is!

Sondelose Lam van God kom aanvaar die mens se lot –

Hy, met mense saamgetel, ware God – Immanuel!

(Gesang 365: 2)

 

Hartlik sing ons saam aan hierdie Kersgesang!

Ds Kathleen Smith, Kaapstad

Share via
Copy link
Powered by Social Snap