Jakobus 4: 13-17
Ons ken almal daardie dapper oomblik. Daardie keer toe jy vir die eerste keer sonder hande ’n fiets gery het. Ek kan onthou hoe my broer vir my gelag het, toe ek probeer fietsry het sonder hande. Dit was die grootste uitdaging tussen ons maats om te kyk wie kan die eerste loshande fiets ry, en die vinnigste. Om loshande te probeer fiets ry, is ook wanneer jy die hardste val. Want jy en jou fiets gaan oor ’n ongelyke stuk pad of jou wiel tref ’n klip – dan is dit sulke tyd. Jy val jou nerf af.
Dit is wat die gelowiges waaroor Jakobus skryf, hier gedoen het. Hulle het begin om loshande sonder die Here te leef. Hulle het begin om van die Here ’n bespotting te maak. Afhanklikheid van die Here was nie meer in hul woordeskat nie. Jakobus konfronteer sonder om doekies om te draai die gelowiges wat die wêreld en hulself ’n rat voor die oë wil draai. Hul woorde en dade klop nie. Jy kan nie sê jy behoort aan die Here terwyl jou lewe prakties ’n nuttelose poging is nie.
In Jakobus 4: 13 staan daar geskryf: Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ’n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.”
Dit klink na selfversekerde mense waaroor hier geskryf word. Mense wat die wil van die Here glad nie belangrik ag in hul lewe nie. “Afhanklikheid van die Here” is nie deel van hul woordeskat nie. Ons moet daarteen waak dat hierdie vermetelde onafhanklikheidsgevoel by ons ontstaan. Ons praat van “grootkop kry”. Dit gebeur gewoonlik wanneer mense sukses behaal en vergeet dat dit nie deur hul eie toedoen en goedheid gebeur het nie, maar deur God wat hulle genadig is. Dit is as ons grootkop kry dat ons met die Chopper-fiets loshande wil ry en al hoe vinniger en al hoe beter ry.
Plaas jou hand vandag nog in God se hand, moenie probeer om loshande sonder die Here te leef nie. As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde. Hou aan om die regte dinge te doen!
Ds Lana van Rensburg, Koedoesrand