1 Samuel 3: 1-11
Ons het in hierdie teks met twee belangrike stories te make. Die eerste is natuurlik die storie van Samuel, en die tweede is dié van Eli. In die storie van Samuel hoor ons van iemand wat sy mentor moes vertrou, wat die stem van die Here moes leer ken, en dan ook homself beskikbaar moes stel as dienskneg van die Here.
Aan die ander kant hoor ons die storie van Eli, die mentor en gesagdraende dienskneg van God wat reeds baie jare lank homself in diens van die Here gestel het. In sy storie hoor ons hoe hy moes aanvaar dat die Here verby hom beweeg na die jonge Samuel wat nog in sy opleiding was. Ons hoor ook hoe hy nie net vir Samuel moes bemagtig om die roepstem van God te herken nie, maar ook die boodskap van die Here deur Samuel moes aanvaar.
Net soos Samuel, moet ons leer om onsself diensbaar te stel vir die Here, en te antwoord op die roepstem van God. Maar ons het ook nodig om soos Eli te kan sien wanneer die Here na ons naaste uitreik, en hoe om hulle te bemagtig sodat húlle ook kan antwoord op God se roepstem. Soos wat Samuel genoeg vertroue gehad het om te luister na sy mentor sodat hy op die roepstem van die Here kon antwoord, so moet ons ook luister na die mense wat die Here oor ons pad stuur om ons te bemagtig in God se opdrag. Soos wat Eli nederig genoeg was om te aanvaar dat die Here nou deur ’n ander praat, en opreg genoeg was om die vermanende boodskap van die Here deur Samuel aan te hoor, so moet ons ook in nederigheid luister na die roepstem van God deur enigeen wat God gebruik.
Paulus leer ons verder dat ons, as nuwe mense in Christus, moet vertrou op die Gees van God wat in ons woon om die roepstem van God te hoor en daarop te antwoord (Rom 8: 9). Die vraag is: Wat maak ek met die roepstem?
Ds Schalk Zastron, Ermelo
