Jakobus 1: 2-8

Ons is nog besig om te kyk na gebed as ’n wapen, en vandag kyk ons na die ammunisie waarmee ons die wapen van gebed laai. Enige wapen het ammunisie nodig om te kan skiet. Wat belangrik is, is dat die regte ammunisie gebruik moet word. Verkeerde of verswakte ammunisie veroorsaak dat ’n wapen kan weier of nie krag het nie, met die gevolg dat dit oneffektief is.

Dit is presies wat dikwels met ons gebeur. Dit is asof ons gebede oneffektief is. Ons bid, maar dit voel asof niks gebeur nie. Sommige gebede is nie veel meer nie as ’n ritueel wat voor ete of vroegoggend plaasvind. Ons bid somtyds maar net uit gewoonte, en dan voel dit asof dit nie help om te bid nie.

Jakobus wys ons daarop dat ’n mens gelowig moet bid en nie moet twyfel nie. Twyfel is vernietigend vir gebede. Wanneer ons twyfel of die Here iets kan doen, neem ons dikwels sake in ons eie hande, want dit voel soos die enigste uitweg. Twyfel is soos die branders van die see, dit neem ons op ’n ewigdurende reistog van nou hier en dan daar, en dit vernietig jou teen die rotse van die lewe.

Geloof is ’n vaste kennis van en vertroue in God en dit gee inhoud en waarde aan ons gebede. Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking omdat gelowiges hul afhanklikheid van God besef. As Skepper het die Here die krag om die gang van die lewe te verander. Wanneer ons ons lewe in sy hande plaas, het ons die sekerheid dat Hy ons gebede volgens sy wil verhoor. Hy gee nie altyd wat ons vra nie, maar Hy gee wat Hy weet die beste is.

Wat is daar wat soos ’n berg voor jou lê? As ons geloof soos ’n mosterdsaad het, sal die Here die berge versit wat voor en rondom ons is. Bid met ’n mosterdsaadgeloof en vertrou die Here. Bid gelowig en moenie twyfel nie.

Dr Martin Jansen van Rensburg, Delmas

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link