Romeine 15: 13

Ek luister vanoggend na die lied van Jo Black, Bring die hoop weer terug. Daarin vra hy wat is hoop, en gee hy ’n antwoord van wat hoop vir hom beteken. Wanneer ons Romeine 15: 13 lees, kan ons uiteindelik ook vra wat is hoop as God die bron van hoop is. Om hoop te hê, beteken dat wanneer jy in die middel van ’n storm staan, wanneer dit voel of jy alleen is in ’n situasie, wanneer die wêreld teen jou is en niks gaan soos wat jy voel dit moet nie, jy God sal raaksien – God wat ’n hand na jou uitreik om jou te help.

Met God as bron van hoop, vind ons vreugde in die klein dingetjies in die lewe, sien ons raak dat daar wel goeie dinge rondom ons gebeur, al voel dit of alles teen ons is. Hoop is die wete dat die goeie steeds daar is, ten spyte van die negatiewe waarop ons so graag fokus. Hoop is die krag om in die oggend op te staan en ’n tree die dag in te waag, onwetend hoe die dag gaan uitdraai, maar steeds gaan ons voort al is dit val-val vorentoe. Dit is die wete dat God by ons is en dat Hy ons Trooster is in die vorm van die Heilige Gees, wat elke tree saam met ons stap. Dit is die wete dat Hy ons hand vashou en nooit laat gaan nie, al vergeet ons soms dat Hy daar is.

Mag jou hoop, die wete dat God teenwoordig is, en die krag, vreugde en liefde wat Hy bring, elke dag groei.

Gebed

Here, dankie dat ons hoop mag hê. Dankie dat ons kan weet dat U by ons is. Dankie dat u hand altyd na ons toe uitgestrek is en dat ons altyd op u liefde en vrede kan staatmaak. Help ons om hierdie hoop te koester en toe te laat dat dit groei deur u Gees. Amen.

Ds Yvette Scholtz, Magaliesmoot

Share via
Copy link
Powered by Social Snap