Handelinge 2: 14-21

In die Bybelse tyd is vroue, kinders en slawe nie so belangrik geag as mans nie. Daar is onderskeid gemaak tussen mans en vroue; kinders en grootmense; konings, base of eienaars en onderdane of dienaars (slawe); profete en gewone mense; en Jode en ander volke. Die mense in daardie tyd het die wêreld opgedeel in groepe – belangrike en minderwaardige groepe. Ook in hul godsdienstige leefwêreld was daar mense wat belangriker was as ander.

In die teksgedeelte gebeur daar iets wat die hele geloofsgemeenskap omkeer. Skielik is daar plek vir almal, en is die Gees by almal: seuns en dogters; jongmense en oumense; belangrike en ondergeskikte mense. Met die uitstorting van die Heilige Gees kom herinner Petrus hulle daaraan dat God nie onderskeid maak nie. Hy sluit almal in by die belofte van die Gees. Die Gees diskrimineer nie. Die Gees verkleineer nie. Die Gees sluit nie mense uit nie. Die Gees maak nie sekere mense of groepe belangriker as ander nie. Dit was vir hulle ’n verrassende nuwe manier van dink! Dit het hul manier van doen uitgedaag, en hulle moes leer om nuut hieroor te dink! Die teks daag ons ook uit om ’n groot spieël voor onsself te hou en te vra: Wie sluit ons in en uit in vandag se tyd? Teen wie diskrimineer ons? Aan watter mense dink ons as minderwaardig?

In ’n diep verdeelde samelewing en ’n tyd waarin diskriminasie talle vorms aanneem, herinner hierdie teks ons aan God se koninkryk waar almal ingesluit is en die laastes die eerstes is. Die omgekeerde orde van God se liefde beteken dat ons met hoop na Suid-Afrika en die wêreld kan kyk en kan weet dat God se Gees mense omkeer. En dat sy Gees elkeen van ons gebruik om van die wêreld ’n beter plek te maak!

Gebed

Here, U wat self ’n kind was, en U wat kinders liefgehad het, beskerm ons in ’n samelewing wat sy eie kinders verteer. Amen.

Ds Lisa-Mari Prinsloo, Sasolburg-Suid

af
af
Deel met behulp van
Copy link