Matteus 26: 39

Jesus het telkens in tye van benoudheid of nood eenkant toe gegaan vir stiltyd. Hier in ons gedeelte is Hy op die punt om gevange geneem te word. Jesus bevind Hom in ’n tuin, die tuin van Getsemane. Hier kan ons weer sy behoefte aan stiltyd sien, veral in hierdie baie donker tyd van nood. Ons bevind ons ook soms in sulke moeilike tye in ons lewens, die bykans ondraaglike situasies. Wat doen ons in hierdie tye? Volg ons die voorbeeld van Jesus en soek ’n Getsemane (’n plek) waar ons stiltyd kan ervaar? Stiltyd saam met ons hemelse Vader?

Jesus het in sy stiltyd altyd gebid. Gebed is ’n gesprek met God. Gesprek is kommunikasie, en kommunikasie is die hoeksteen van enige verhouding. Dus word ons verhouding met die hemelse Vader geken aan ons vermoë om met Hom te kan kommunikeer – tot Hom te bid. Wat is dit wat Jesus hierdie keer bid? Hy bid dat die lydensbeker by Hom verby moet gaan. Ons sien weer die mensheid van Jesus raak. En so dien dit tot troos vir my, want nou weet ek dit is aanvaarbaar om ook te bid: Vader, laat die lydensbeker by my verbygaan. Jesus se gebed eindig egter nie hier nie; Hy bid verder dat nie sy wil nie, maar die wil van die Vader moet geskied. Ons vra maklik dat die lydensbeker by ons moet verbygaan. Die vraag is dus, is ons bereid om ook te bid dat die wil van God bo my wil moet geskied?

Ten slotte kan ons hier ontdek dat Jesus ’n gebed bid wat nie verhoor word nie. Ja, die Vader het na Jesus se gebed geluister, en dit in sy almag goedgevind om dit nie te verhoor nie. Die feit dat God hierdie gebed van Jesus nie verhoor het nie, het dit moontlik gemaak dat ons in Jesus se lyding, kruisdood en opstanding ook die verheerliking mag smaak.

Ds Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein

af
af
Deel met behulp van
Copy link