Genesis 9: 8-17

Hoeveel keer het dit nie al gebeur nie dat ’n mens bid vir ’n teken van God af? ’n Teken wat ons sal help om die regte besluit te neem… God gee aan Noag en sy gesin ’n teken, maar die teken is nie omdat Noag daarvoor gevra het nie. Dit is ’n teken wat God self besluit om te gee. ’n Teken daarvan dat God nie weer die hele aarde sal vernietig om van die goddeloses ontslae te probeer raak nie – God gee ’n reënboog. Die reënboog herinner aan die vloed en die vrees wat dit veroorsaak het, maar dit herinner ook aan God se belofte en die hoop wat daarin opgesluit lê. Die Bose is nie groter as God se liefde vir ons nie.

Deur die verbond met Noag te sluit, beloof God dat God se ingrype in die toekoms nie weer verwoesting tot gevolg sal hê. God het geweet dat die mens weer die verkeerde goed sou doen, en tog het dit God nie gekeer om die belofte te maak nie. Dit het God nie gekeer om vir Jesus Christus te stuur om vir ons te sterf sodat daar vir ons redding kan wees nie.

God ken in elke opsig ook ons tekortkominge, en steeds kies God om aan te hou om na ons te soek en ons nader te trek. In ons sondige toestand gee God vir ons hoop vir ’n nuwe lewe – ’n nuwe toekoms waar ons nie vir die Here bang hoef te wees nie. Ons kan dit as niks anders as genade beskryf nie. Genade wat die straf weerhou wat ons verdien, en genade wat ons die seën gee wat ons nie verdien nie.

Ds Nastasia Vosloo-Steyn, Donegal/Molopo-kombinasie

af
af
Deel met behulp van
Copy link