1 Korintiërs 15: 3-4; Jesaja 53: 5-9
Vanaf 1 Korintiërs 15: 3-4 herinner Paulus die Korintiërs aan die inhoud van die evangelieboodskap. Hier het ons, in die mees kompakte en eenvoudigste taal moontlik, ’n herinnering aan die wese van die evangelie, insluitend twee feite en twee onweerlegbare bewyse vir elke feit. Vandag kyk ons na die twee feite.
Die feite wat Paulus hier stel, is: Christus het vir ons sondes gesterf, en Christus het uit die dood opgestaan. Die feit dat Christus gesterf het, was nog altyd onmiskenbaar. Selfs ’n skeptiese kritikus van die Christelike godsdiens sal erken dat Jesus van Nasaret gesterf het. Dit verg geen geloof nie om hierdie onweerlegbare feit van die geskiedenis te glo. Dat Christus egter vir ons sondes gesterf het, is ’n saak van geloof wat nie direk in die gebeure van Christus se dood en begrafnis gesien kan word nie. Daarom moet God se spesiale openbaring van die betekenis van die Messias se dood die betekenis van die historiese feit interpreteer.
Ons vind hierdie bewys in ’n Ou Testamentiese profesie van die komende Messias wat ongeveer sewehonderd jaar voor die koms van Jesus geskryf is (Jes 53: 5-9). Daar lees ons van die lydende dienskneg wat vir die verlossing van ander moet sterf. Ek weet dat dit na ’n fisiese persoon in die tyd van Jesaja verwys het, maar ons as gelowiges kan eenvoudig nie anders nie as om dit wat Christus vir ons kom doen het, in hierdie gebeure te sien.
Jesus het gesterf, aan die kruis gesterf vir ons sondes, en daarna is Jesus begrawe. Jesus se begrafnis was belangrik, want dit het die historiese feit van sy dood bewys. Net soos die Skrif in Jesaja 53: 5-9 die offer van die lydende kneg beskryf, is Jesus se dood die plaasvervangende versoening vir ons sonde: Hy het in ons plek gesterf sodat ons vir ewig bevry kon word van die doodstraf. Hoe bevrydend is hierdie feit, dat Jesus, deur aan die kruis te sterf, ons ook kom verlos het van die sonde en dat Hy uit die graf opgestaan het, en ons verlos het van die ewige dood.
Ds Willem Sauer, Waterberg
