Openbaring 3: 1-6

Soms moet God hard met sy kerk praat om ons wakker te skud uit ons valse gerustheid. Soos die ander gemeentes, verteenwoordig die gemeente in Sardis in hierdie gedeelte ook die kerk van alle tye en die tipiese omstandighede wat soms in die kerk voorkom. Een daarvan is dat dit soms kan lyk asof die kerk lewe terwyl dit eintlik geestelik dood is. Die probleem is dat ’n gemeente baie doenig en aan die gang kan wees en in die oë van mense lewendig kan voorkom, maar in God se oë is hulle eintlik geestelik dood. Hulle ken God nie en leef nie in ’n verhouding met God nie.

Tog skryf God nie die kerk af nie. God hou die kerk in stand deur sy Gees en deur die verkondiging van sy Woord. Die kerk word gewaarsku om wakker te word. Dit herinner ons aan die gelykenis van die meisies met die lampe wat nie gereed was vir die koms van die bruidegom nie. Waar mense hul verhouding met God afskeep, tas dit die hart van die kerk aan. Dan is dit nodig om weer terug te keer na die basiese beginsels van die evangelie, die goeie nuus van God se genade en liefde.

Geestelike doodsheid word nie omgekeer deur oppervlakkige veranderings te maak nie. Dit verander eers wanneer ’n mens besef dat dit net deur God se genade is dat ons van die sonde gereinig word. Dit word deur die wit klere uitgebeeld. Watter onuitspreeklike voorreg is dit nie dat ons name vir altyd in die boek van die lewe geskryf sal staan! Ons is deur Jesus Christus vrygespreek en behoort vir altyd aan Hom. Niks of niemand kan dit van jou af wegneem nie.

Dink na:

Hoe gebeur dit dat ’n mens se verhouding met God doodgaan?

Wat is die kern van ons verhouding met God?

Moet ons in vrees lewe vir Jesus se wederkoms?

Dr Gerhard Lindeque, Bybelgenootskap van Suid-Afrika

Share via
Copy link
Powered by Social Snap