1 Korintiërs 9: 24-27

In die beeld wat Paulus hier gebruik, vertel hy dat almal wat aan die wedloop deelneem, hardloop om te wen. Maar uiteindelik kan net een die prys wen. Hiermee bedoel Paulus nie dat Christene op mekaar moet trap om die een te wees wat wen nie, maar eerder dat ons nie moet vergeet waarheen ons op pad is en wat ons eindbestemming is nie. As ons die geestelike wedloop hardloop, moet ons alles gee en die beste doen wat ons kan. Vir ons as Christene beteken dit ons moet voluit soos ’n Christen lewe.

Natuurlik hou dit ook in dat ons as Christene ’n ander lewenstyl moet handhaaf. Daarom noem Paulus dat atlete hulself allerlei dinge ontsê. Die atlete van Paulus se tyd het hulle vir tien maande vooraf weerhou van wyn, vleis en selfs hul vrou of man, alles ten einde die beste atleet te wees.

So sê Paulus dan dat ons groter selfdissipline moet uitoefen as dit by ons geloof kom. Paulus waarsku ons egter aan die einde van die stuk. Hy sê: Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos ’n bokser wat nie in die lug slaan nie. Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie. Ons hardloop immers nie vir ’n verganklike oorwinnaarskroon nie, maar vir ’n onverganklike kroon.

Soos Paulus geroep is, so is ons ook geroep om die wedloop met ywer, selfdissipline en volharding te hardloop. In die proses moet ons nie mekaar terughou of belemmer nie, maar mekaar aanmoedig en help waar iemand ook al struikel.

Ds Gustav van Zyl, Phalaborwa

af
af
Deel met behulp van
Copy link