Markus 8: 34-35

Die volgende dagstukkies handel oor die Psalms wat met pelgrimsreise te make het. Pelgrims van Israel het verpligte reise na die Jerusalemse heiligdom onderneem vir die groot godsdienstige feeste soos die pasga, en vir aanbidding en offers. Die doel van die reis is ’n “ontmoeting” met God. Dit was ’n godsdienstige reis met genoeg tyd vir nadenke oor die verhouding met God en medemense, oor dit wat betekenis aan die lewe gee. Sommige van die liedere is op pad gesing en ander na aankoms in Jerusalem. Ander liedere is by die heiligdom gesing. Daar is toetredeliturgieë vir toegang tot die heiligdom en ’n wegsendingsliturgie. Daar is gesing oor God se seën, oor swaarkry en verdrukking, oor God wat red of die verwagting dat God sal red. Daar is gesing oor God en die verbond met Israel, wat die volk se sekuriteit was.

Christene word nie verplig om pelgrimsreise te onderneem nie. Ons lewe is ’n pelgrimsreis, want ons probeer op die spoor loop van die Een wat Homself die Weg genoem het. Daarom is Christene aanvanklik mense van die Weg genoem. Sy reis gee die wesenlike betekenis aan ons lewens. Die pad wat Hy moes loop, was een van verwerping en stryd. Die laaste trajek was die Via Dolorosa, die Pad van Smarte tot by Golgota. Aan die einde van sy reis roep Hy sterwend: Dit is volbring! Dáárom is ons pelgrims, nie op pad na nêrens nie, maar na die Vader. Nie op ’n pad wat ons self maak nie, maar op die pad wat Hý gemaak het. Jy loop nie die pad vir beloning nie. Die voorreg om te mag volg, is beloning op sigself, want dit is louter genade.

Die pad is nie maklik nie, want dit begin swaar: met selfverloëning. Met die sware treë van miskenning van eie vermoë en vertroue daarop. Die erkenning dat hierdie lewe nie oor jouself handel nie. Dit is om die kruis op te neem waaraan eiebelang en eie belangrikheid sterf, en op sy spoor van selfprysgawe te loop. Loop jy só?

Gesang 505: 1-4

Dr Gert Malan, Mosselbaai

af
af
Deel met behulp van
Copy link