Jesaja 40: 1-8

Die Afrikaanse naguil se roep is pragtig! Kenners sê die mannetjie roep van ’n tak sowat 3 tot 4 meter bo die grond af. Die kenmerkende liedjie is ’n mooi dalende fluit, met ’n pragtige bynaam: Jaag-weg-die-wewenaar! Baie interessant is dat die naguil bykans die hele jaar roep. Volgens Die Voëlgids van Suider-Afrika van Ulrich Oberprieler en Burger Cilliers roep hulle egter nie wanneer hulle begin broei nie.

Luister ons nog na die geroep? Daar was ’n dag toe iemand die volk van Israel geroep het. Die volk was in ballingskap, hulle was moeg en moedeloos. Hooploos het hulle gevoel, want selfs hier in ballingskap het hul omstandighede net al hoe meer versleg. Die volk se verset was verstaanbaar, en hul moedelose teenvraag in Jesaja 40: 6 eggo tot vandag toe nog in beswaarde siele: Wat kan ek roep?

Soos gras, soos brose veldblomme, is die mens. Vanuit hierdie omstandighede spreek die Here weer. Dit is so… God, die Verlosser, bring self die boodskap van hoop. Kragtig is die hoofstuk en die beloftes daarin opgeteken, tot vandag toe!  Jesaja 40-55 word genoem Deutero-Jesaja. ’n Profeet moes uit sy eie stof opstaan en vir die volk die heerlike boodskap bring, dat God met hulle ’n nuwe begin maak! In Jesus Christus weet ons die beloftes het waar geword! So treffend skryf die Bybel in Praktyk: Hy roep ons om uit ons ballingskap, ons verlorenheid te kom. Laat ons nooit doof word vir die roepstem van ons Heiland nie, of in vrees stil word omdat ons soos gras, soos brose veldblomme voel nie. Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig (Jes 40: 8).

Gebed

Magtige Herder en Koning, ons dank U dat die geroep ook ons mag bereik. Laat ons nie doof word nie vir die Woord wat ewig bly. Amen.

Gesang 486: 1 en 4

Ds Anna-Marie Kloppers, Rustenburg Jac van Belkum

Share via
Copy link
Powered by Social Snap