Joël 1: 18-20

Ek roep tot U, Here, sê die profeet. Hy bid. Want dit is toe nie net die gesaaides en die plantegroei wat swaarkry nie, maar ook die beeste en kleinvee. Ja, ook die diereryk ly as gevolg van die katastrofe wat hulle tref. Net soos die digter van Psalm 42: 2 beskryf: Soos ’n wildsbok smag na waterstrome… Want hier het die spruite ook opgedroog. Vuur het die weiveld verwoes.

Mens en dier smag na en pleit vir weiding en water. Net soos diere afhanklik is van God, so is die mens ook. Joël wil hê dat die volk moet besef dat hulle erns moet maak met gebed tot God in sy heiligdom. Hulle moet omgewingsbewus wees en die verband kan raaksien tussen Skepper en skepping. Joël weet dat dit God is wat hom die insig en die kennis gee om dit wat hy waarneem, te kan beoordeel en waardeer. Met oë gerig op God, op wat om hulle aangaan, spoor Joël die gelowiges aan om te bid.

Ons sing so graag Gesang 464, veral met begrafnisse. Maar kyk wat sing ons:

O Heer, U sorg vir klein, vir groot, vir alles

en U sorg dag na dag vir my, u kind.

U maak ons deel van al u grootse werke.

U laat ons bid, Heer, dat u ryk mag kom.

En kom U weer in heerlikheid op wolke,

maak U volkome nuut u eiendom.

Hoe groot is U; hoe groot is U!

Want deur die hele skepping klink dit saam:

Hoe heerlik, Heer, u grote Naam!

Ds Kathleen Smith, Kaapstad

 

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link