Esegiël 47: 1-12

Getuig ons lewens van die volheid van God, of is ons tevrede om maar net te bestaan? Ons val soms vas in ’n lewe van skaarste en doodsheid en raak dan mismoedig, omdat ons net nie aan die gang kan kom nie. Ons doen nie veel nie, want ons is nie lus nie. En alles ly daaronder. Selfs om voor God stil te word, raak vir ons moeilik. Die lewe eis sy tol!

Dalk voel ons dan asof ons soos die Dooie See geword het: ’n lewelose massa water wat nie waarlik iets beteken nie. Esegiël 47 gee as’t ware roetemerkers vir hoe ons uit hierdie dooie gevoel kan ontwaak. Hierdie hoofstuk is die toppunt van sy prediking aan ’n mismoedige nasie. 

Enkele groot oomblikke staan uit:

Die water kom uit die heiligdom. Dit is God self wat die vernuwing vir vermoeide mense bied.

Wanneer ons in beweging is, ervaar ons dat die diepte van die water kan verander. Nes die vis en bome langs die stroom, is dit tog by God dat mense weer in beweging kom en waar lewe te vind is.

Hierdie waterstroom van God bring lewe vir elkeen wat daarmee in aanraking kom. Dit is wat God doen – Hy gee weer lewe.

Om in God te glo en aan Hom te behoort, is om te ervaar hoedat hierdie lewegewende stroom deur ons vloei sodat ander ook daardeur aangeraak kan word. Dit is om nie meer die doodsheid van die Dooie See te ervaar of gevoelloos teenoor mekaar te wees nie, maar om ware lewe te ervaar en dit aan ander deur te gee. Ons taak is om te getuig – nie om deur die soutmoerasse en kuile ontmoedig te word nie, maar om te lewe in die volheid van God wat oor ons spoel, om God toe te laat om ons te verander! Dan leef ons die koninkryk, verbonde aan God!

Ds Quinten Schimper, Krugersdorp/Krugersdorp-Wes

af
af
Deel met behulp van
Copy link