Lukas 13: 1-5
In die inleiding tot sy kommentaar op die Psalms skryf Johannes Calvyn (1509-1564) van sy eie bekering teen die agtergrond van sy regstudies, wat hy in daardie stadium aangepak het. Calvyn beskryf sy bekering as ’n “skielike bekering tot leerbaarheid” of ’n conversio ad docelitam. Wat het Calvyn met die woord “leerbaarheid” bedoel?
Die lewe is vol alwetende, gearriveerde mense, nie waar nie? Ons hoor dikwels hoe mense sê: Jy kan my niks leer van… en dan gaan hulle aan om vir jou te vertel van die dinge waarvan jy hulle, sogenaamd, niks kan leer nie. Dis dikwels ook die geval wanneer ons uitsprake maak oor die Here en sy werking in ons wêreld. Dit getuig van ’n selfversekerde, alwetende en gearriveerde houding. Indien ons dit nog ’n stap verder neem, kan ons dit selfs ’n arrogante houding noem.
In Lukas 13 is Jesus en sy volgelinge in die midde van twee reusagtige tragedies in en om Jerusalem. Pilatus het pas ’n groep Galileërs laat doodmaak, waar hulle besig was om hul offers aan die Here te bring. Die toring van Siloam het ook omgeval en 18 mense is in die proses oorlede. Wie se skuld is dit dat hierdie swaarkry oor mense se pad gekom het? Dit wil voorkom asof die mense van die omgewing dit as vanselfsprekend aanvaar dat dit die Galileërs en 18 slagoffers van die toring se eie skuld is dat hierdie leed hulle getref het. Jesus reageer hewig daarteen. Dis asof Jesus die arrogante alwetendheid van die mense in die omgewing aanvat. Kan ons die Here se weë ten volle verstaan?
Nee, nie een van ons kan die Here in sy totaliteit begryp nie. Die Here is baie groter as die skemas wat ons in ons koppe het oor die Here se werking in mense se lewens. Dalk is ’n bekering tot leerbaarheid onder andere ook ’n bekering tot nederigheid. Alles wat ons oor die Here kan sê, is voorlopig, feilbaar en tydelik, omdat ons feilbare mense is. Mag ons dit in nederigheid onthou wanneer ons namens die Here praat.
Ds Steve Oxton, Wapadrant