1 Korintiërs 15: 54b

Die dood is verslind in oorwinning. Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel? (1 Kor 15: 54b-55, AFR2020).

Op 27 Februarie 1991 het ’n Amerikaanse vrou se wêreld in duie gestort. Twee manne in uniform van die Pentagon het die doodstyding gebring. Haar seun, Clayton Carpenter Private 1st Class, het in Koeweit sy lewe tydens operasie Desert Storm verloor. Sy ma, Ruth Dillow, het later geskryf hoe geweldig geskok en verpletter sy was by die aanhoor van die nuus. Haar gemoed het tussen woede en verlies geskommel en die kos en blomme wat mense gebring het, het nie veel gehelp nie – haar verlies was te groot.

Laatnag het die telefoon gelui. Die stem aan die ander kant? Ek dink jy kan al raai wat volg. Haar seun se stem wat sê: Ma, dit is ek – ek lewe! Die Pentagon het ’n fout gemaak – dit was ’n verkeerde berig. Sy kon dit eers nie glo nie, maar soos die gesprek gevorder het, het die sekerheid gegroei – haar seun lewe! Sy het deurmekaar gelag en gehuil, haar vreugde het geen perke geken nie. Haar seun wat dood was, het weer gelewe.

Hoeveel hartseer ouers het nie al op dieselfde oproep gehoop nie? Hoeveel mense in ’n rouproses vertel nie van dieselfde wens nie? Mense sê: Dit voel of my kind (of enige geliefde wat oorlede is) enige oomblik weer hier kan instap of dat wanneer die telefoon lui, dit hy of sy sal wees wat net soos altyd weer sal praat en gesels.

’n Mens kan jou net Maria, Jesus se moeder, se smart indink toe sy haar sterwende seun aan die kruis moes aanskou. Hoe het haar vreugde gelyk toe Jesus na sy opstanding aan soveel verskyn het? Paulus noem dat Jesus aan Sefas verskyn het, toe aan die twaalf, daarna aan meer as vyfhonderd broers (susters) tegelyk, daarna aan Jakobus en heel laaste aan hom, Paulus, die misgeboorte (1 Kor 15: 5-8).

Jesus se opstanding het die dood verslind. Die dood het doodgegaan in aanskoue van ’n leë graf.

Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege

Share via
Copy link
Powered by Social Snap