Romeine 12: 9-21
Dit is moeilik om ’n gemeenskap van gelowiges te wees in hierdie wêreld wat elke dag so verander. Dit voel vir my hoe meer tyd verbygaan, hoe minder plek is daar vir geloof in die wêreld waarin ons leef. En dan, wanneer ons in hierdie wêreld Christene moet wees en leef soos wat van ’n Christen verwag word, staan ons hinderlik uit. Dit wat van ons verwag word en hoe die mense in vandag se tyd en samelewing leef, stem nie met mekaar ooreen nie. Om in hierdie wêreld ’n Christen te wees, is soos om ’n vierkantige blokkie in ’n ronde gat te probeer pas.
Daarom sê Paulus ook in die eerste gedeelte van hoofstuk 12 vir die gelowiges in Rome: Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. As’t ware sê hy vir hulle, wees ’n vierkant as hierdie sondige wêreld van jou verwag om ’n sirkel te wees. Moenie word soos die sondige wêreld waarin jy leef nie. Leef soos wat daar van ’n Christen verwag word, al beteken dit dat jy anders is as al die mense rondom jou.
Daarom gee Paulus riglyne vir die Christelike lewe, en trek hy alles terug na die liefde as die belangrikste kriterium vir hoe ’n Christen behoort te lewe. As ons wil voldoen aan al die beginsels of opdragte wat Paulus in hierdie gedeelte bespreek het, kan ons dit gaan memoriseer en seker maak ons oortree nie een of meer daarvan in ons alledaagse lewens nie. ’n Eenvoudige manier om seker te maak ons leef volgens hierdie riglyne of volgens enige van die vereistes wat vir ons as Christene gestel word, is om net doodeenvoudig alles wat ons doen, in liefde te doen.
In Johannes 13: 34 sê Jesus: Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.
Ds Marsulizé van Niekerk, Upington
