Markus 1: 35-37

Kom ons sluit die oë, sê Afrikaanse mense graag voordat hulle begin bid. Ons dink dikwels aan gebed as “woorde praat”. Wie voor ander moet bid, wonder benoud: Wat moet ek sê? Gebed gaan nie in die eerste plek oor woorde praat nie. Dit is bewustelik op God fokus, om te luister en God se genade te soek. In gebed tree ’n mens nader tot God en jy maak jou hart oop vir God. Gebed gaan juis nie oor “oë sluit”, jou afsluit van die wêreld nie. Dit gaan oor oë oopmaak. Kyk wat om jou aangaan. Om nie met toe oë deur die lewe te gaan nie, maar wakker te wees en ten volle deel te neem aan God se wêreld.

Gebed bied ruimte vir alles wat mense ervaar. Daar is ruimte vir verhoudings, met God, met ander en met jouself. Daar is ruimte vir lof en dank, vir selfondersoek en jammer sê, vir weeklaag. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. As die hart vol pyn by God leeg gepraat word, kom daar weer ’n plekkie vry, is daar weer ruimte vir die nood van ander. Gebed is nie net woorde nie, maar ook stilte. Stilte is die offer van ons tyd en onsself wat vir God gebring word. God neem dan die woord en die inisiatief. Ons hart en ore is oop vir God. Gebed gaan nie oor alles wat ons te sê het nie, maar wat God in ons doen. In gebed kan klein weerlose mense rus in God se genade.

Jesus bid vroeg in die oggend toe dit nog donker was. Die vorige dag was besig. Baie mense met nood soek sy aandag en hulp. Hy bring dit alles na God toe. In gebed kry Hy krag vir die volgende besige dag om al die mense te probeer help. Hy is nog besig om te bid, toe hoor Hy: Almal soek U.

Soos God Jesus gedra het deur sy werk en lewe, so ook ons.

Prof Yolanda Dreyer, Universiteit van Pretoria /     Nederlandssprekende Gemeente

af
af
Deel met behulp van
Copy link