Kolossense 1: 24 – 2: 5

Paulus raak nou baie meer persoonlik – nie net oor homself nie, maar ook oor sy lesers. Eerstens vestig hy sy gesag. Hy gee as’t ware sy handelsmerk uit. Hy sê wie hy is, wat hy doen en wat die inhoud van sy boodskap is. Dit kom daarop neer dat hy ’n dienskneg van Christus is. Hy is geroep volgens die raadsplan van God. Sy boodskap is om die misterie van Christus onder die nasies bekend te maak. Hierdie boodskap is baie kosbaar. Die gevolg daarvan is dat mense volmaak in Christus kan staan. Hiermee wil Paulus dit duidelik stel dat hy geen selfgemaakte apostel is nie. Hy het inderdaad vanaf God self sy gesag ontvang.

Tweedens sê Paulus dat hy besig is om te ly ter wille van hulle, net soos Christus ook moes ly. Paulus gaan nog verder. Hy verkeer ook in ’n stryd oor die mense in Kolosse en hul bure in Laodisea. Hoekom dink Paulus dit goed om weer opnuut sy gesag te vestig en sy leser aan sy stryd oor hulle te herinner?

Die rede is eenvoudig: Hy wil hulle verplig om te luister en te lees. Daar het inderdaad wolwe onder sy skape ingekom. Die boodskap wat hulle verkondig, is nie dieselfde as wat God aan hom toevertrou het nie. Die boodskap van die dwaalleraars verkondig nie hoop nie en vertroos ook nie die harte nie. Dit is soos 2: 4 sê: verleiding deur dwaling. Hierdie mense bring tweespalt onder Paulus se skape. Paulus as geestelike vader wil hulle graag weer op die regte pad bring.

Hierdie gedeelte herinner my dat daar niks nuuts onder die son is nie. Ook deesdae ontbreek daar nie mense wat aanspraak maak op apostel-, profeet- of leraarskap nie. In die meeste gevalle word daar dan ook ’n ander evangelie as dié van Paulus verkondig. Dit is gewoonlik ’n Christus-plus-boodskap: Christus plus die regte dag; Christus plus die regte amp; Christus plus die regte doop. Hierdie boodskap bou of vertroos nie; dit verwar.

Prof Pierre Jordaan, Wonderfontein

af
af
Deel met behulp van
Copy link