Handelinge 2: 32-47

Ons sien gereeld hoe stukkend die wêreld is. Ons voel dit baie keer aan eie lyf. In ons verhoudings, wanneer ons geliefdes siek is en wanneer ons twyfel oor die toekoms, beleef ons die swaar en die onvolmaaktheid van hierdie wêreld. Nie net voel ons dit aan eie lyf nie, ons sien dit ook oral rondom ons. Ons sien dit op elke straathoek, ons lees dit in die koerante, en ons hoor dit oral waar ons kom. ’n Mens wonder dan wat God se plan is vir hierdie stukkende wêreld.

In Handelinge 1: 6 vra Jesus se apostels vir Jesus ’n soortgelyke vraag. Hulle wou weet of hierdie wêreld vol swaarkry en onreg weer heel gaan word, want Jesus was dood en nou het Hy opgestaan. Hulle het iets ingrypend verwag. Die toneel wat volg, is waar die Heilige Gees uitgestort word op almal wat daar in Jerusalem bymekaar was vir die pinksterfees.

Petrus staan toe op en probeer sin maak van alles wat nou hier voor hulle afgespeel het. Onder leiding van die Gees probeer hy vir hulle verduidelik. Dis is ’n sigbare teken dat God getrou is aan sy woord en sy beloftes aan Israel vervul het. God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan. Hy sit aan die regterhand van God. Aan Hom is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. God het hierdie Jesus Here en Christus gemaak. Die toekoms wat God belowe het, die herstel van die stukkende wêreld, was besig om voor hul oë te gebeur. Hiervan is die Gees die waarborg.

Met die aanhoor van al hierdie dinge vra hulle vir Petrus en die ander apostels: Wat moet ons doen, broers? As jy as gelowige wonder wat God se plan is vir hierdie stukkende wêreld, neem ’n “selfie”. God wie se Gees in jou woon, wil jou gebruik om hierdie stukkende wêreld heel te maak, en hoewel dit dalk vergesog klink, is die beste waarvoor ons kan hoop dat daar by ons iets van God se liefde, geregtigheid en barmhartigheid teenoor mekaar sal leef.

Ds Elmien Shaw, Swartkop

af
af
Deel met behulp van
Copy link