1 Korintiërs 3: 14-15 (AFR2020)
As iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly – hoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen (vers 15).
Ons werk in God se koninkryk en gemeente gaan volgens 1 Korintiërs 3: 13- 15 eendag ’n vuurtoets ondergaan. Dit herinner aan die Seun van die Mens in Openbaring 1: 14: Sy kop en hare was so wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ’n vlammende vuur. Is dit met sy vlammende-vuur-oë dat Jesus ons gemeentelike bouwerk gaan beoordeel? Net in die volgende hoofstukke van Openbaring volg die skrywes aan die sewe gemeentes waarin hul werk beoordeel word.
Bouwerk wat in die vuurtoets behoue bly, sal beloon word, en diegene wie se werk verbrand, sal skade ly. Bedoel Paulus dat goeie werk met die hemel beloon gaan word en brouwerk met die hel se vuur? Nee, dit is nie die bedoeling hier nie. Goeie werk in gemeentes dra die vrug van die Heilige Gees en dit is daar vir almal om te sien en te waardeer – en groot genoeg beloning vir elkeen om te vier. Gemeentewerk wat deurspek is met partyskappe, onmin, woede, jaloesie, tweespalt, vyandskap en skeuring is soos die hout, gras en strooi wat aan die gulsige vlamme van die vuurtoets onderwerp word. Die werk verbrand tot as en roet en die medewerkers strompel bedroë met roetbesmeerde gesigte eenkant toe. Hul beloning is die roet deur die wind verwaai.
Al verbrand jou werk, word jy nogtans gered – maar soos deur vuur heen – uit die vlammevuur geruk. So hittete. Dit is soos ’n stout kind alleen tuis wat vir ’n brand in die huis verantwoordelik was. Die gewone uitgange word deur vlamme geblokkeer. Die kind staan op die tweede verdieping se stoep. Die vlamme lek, die hitte is oorweldigend en die rook belemmer sig. Dan hoor die kind die pa se stem: Spring my kind, ek sien jóú al sien jy my nie – ek sal jou vang. Die kind spring blindelings agter die pa se stem aan en land in veilige arms.
Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege