Matteus 21: 1-11

Ek was baie opgewonde toe ek vars uit die universiteit met my Weermagopleiding begin het. Na my basiese opleiding en offisierskursus kon ek in die Kerk begin werk! Iets wat ek my lewe lank wou doen. As kapelaan sou ek die geleentheid kry om die evangelie te verkondig aan my mede-dienspligtiges, maar ek sou ook die kans kry om by ’n gemeente te werk. Ek is beroep na ’n gemeente in die Noord-Kaap naby my basis. My vrou het ’n oorplasing gekry na die bank op die dorp. Ons plekkie was bespreek en gewaarborg. Ons gebede is verhoor!

Die treklorrie was letterlik al gepak toe die kapelaan-generaal my dringend ontbied. Ek moes blykbaar weens onvoorsiene omstandighede na ’n ander dorp gaan. Nee, daar is nie vir jou plek by die gemeente op die dorp nie. Jammer! En het jou vrou klaar haar werk bedank? Oeps! Watter ontnugtering! Ek was stukkend! My geloof was aan flarde. Waar is God dan? Ken jy daardie gevoel?

Die skare wat Jesus Jerusalem sien binnery, was opgewonde. Jesus maak sy koningskap op ’n uitdagende manier bekend. Dis net ’n kwessie van tyd! Dan word die Romeinse regering op hul plek gesit! Maar alles loop dood toe Christus gevang en gekruisig word. Watter antiklimaks! Hoekom werk die Here so?

Ons verstaan die evangelie verkeerd as ons dink dit draai om ons. Die skare sien die nederige donkie vir ’n oorlogsperd aan, want dit is wat hulle wou raaksien. Die volle betekenis van Jesus se simboliese daad word deur hul eie agendas verskans. Hulle wou die Romeine pak gee. Die evangelie van sagte woordjies en vergifnis was nie in hul beplanning nie.

Dink mooi na as jy in die Christuskind se voetspore wil volg. As jy die Pad kies, kies jy die-ander-wang-draai, kruisdra, verdraagsaamheid, vergifnis. Jy skort al die regte op waarop jy so graag staan. Sien jy kans daarvoor? As jy in sy voetspore wil volg, gaan dit nie oor die spore wat jy wil trap nie…

Gebed

Here, ek wil U volg, op watter pad U my ook al laat loop. Amen.

Ds Stephen de Beer, Noordwestelike Pretoria

Share via
Copy link
Powered by Social Snap