Jeremia 33: 10-18

Ek dink terug aan die dae toe ons in die motor deur die middestad van Pretoria gery het. Ek onthou hoe my neus teen die venster vasgeplak was in verwondering oor al die strate en al die groot geboue. My ouers het keer op keer vir my gesê: Kyk net daar, ons het in daardie parkie piekniek gehou en ons het daar deur die strate in die middel van die nag geloop. Hierdie opmerkings was nie daarop uit om kosbare herinneringe te deel nie – dit het ’n mismoedige subteks gehad. Elke opmerking van hierdie herinneringe het geëindig met die gedagte: Vandag is dit alles verwoes.

Dit is iets wat ons by baie ander mense hoor. Die sinnetjie begin gewoonlik met die woorde: In die goeie ou dae…. Ek kom self agter hoe ek my kinders daaraan herinner dat ons in die strate van die dorp gespeel het, maar hulle kan dit nie doen nie.

Daar is iets aan verwoesting wat vrees en angs by ’n mens tuisbring. Dit is iets wat die Israeliete in die tyd van Jeremia goed geken het. Hul hele land was verwoes deur die wreedaardige Babiloniërs. Ek is seker dat hulle ook dieselfde ou staaltjies vertel het met die woorde: In die goeie ou dae… Hulle het nie baie hoop op die toekoms gehad nie. Dit is dan dat God deur die profeet Jeremia aan hierdie volk ’n belofte van verandering maak. Wanneer hulle kyk na die verwoesting, belowe God vir hulle blydskap en vreugde. Dit is hierdie blote belofte wat maak dat hulle weer vir hulle ’n toekoms kon indink.

Dit is ’n soortgelyke belofte wat ons vind in die koms van Jesus Christus. ’n Belofte van God dat Hy verwoesting verander in hoop. Dalk was daar goeie ou dae, maar God bring nuwe dae. Dit is die enigste belofte wat jy nodig het om, in jou omstandighede, ’n toekoms te bou.

Ds Juan de Beer, Parys

Share via
Copy link
Powered by Social Snap