Lukas 1: 5-25

Aan die vooraand van die geboorte van Jesus Christus op aarde, ontmoet ons in die Lukas-evangelie ’n egpaar: die priester Sagaria en sy vrou Elisabet. Sagaria en sy vrou is albei afstammelinge van die aartspriester Aäron. Hulle was mense van wie spesifiek gesê word dat hulle getroue gelowiges was, wat hulle onberispelik gehou het aan die gebooie van God. Daar ontbreek egter iets in hul lewe: Hulle is kinderloos, en die kans dat hulle ’n kind van hul eie sou kry, was totaal onmoontlik. Albei was reeds van ’n hoë ouderdom, en buitendien was Elisabet onvrugbaar. Dan verskyn daar op ’n dag, toe Sagaria besig was met sy priesterlike take in die tempel, ’n engel van die Here aan hom en bring die tyding dat hulle ’n seun sal kry.

Wanneer ons die verhaal van die priester Sagaria en sy vrou Elisabet hoor, dink ons dadelik aan Abraham en sy vrou Sara, aan die begin van die geskiedenis van die volk Israel in die Ou Testament. Albei egpare is reeds bejaard, en albei is kinderloos. Dit is opmerklik watter rol kinderloosheid speel in die figure wat op die toneel kom, wanneer God iets begin doen of redding aankondig. Ook Hanna, die ma van Samuel, was kinderloos toe sy van die Here ’n seun afgesmeek het, daar aan die begin van die nuwe tydperk toe die eerste koning van Israel aangewys moes word.

Dis asof daar ’n getuienis van hierdie mense se lewe uitgaan dat God elke keer verlossing en bevryding in die lewe van sy volk bring wanneer daar uit die mens geen moontlikhede meer bestaan nie. Dan gebeur die wonderlike ingryping van God teen alle menslike moontlikhede in.

So wil Lukas met sy Evangelie die ou geskiedenis by Jesus se geboorte opdiep om die groot wonder van God se liefde en genade wat Hy al oor eeue heen betoon het, weer uit te lig. Hy wil sê dis dieselfde God van die gryse verlede wat nou weer sy liefde en genade in Jesus Christus op ’n nog groter en ryker manier gaan openbaar.

Ds Arie Kuyper, Villieria

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link