Psalm 27:

’n Ligkolletjie is ’n wonderlike ding in ’n donker nag! Dit verlig nie noodwendig die pad so duidelik nie, maar dit help ’n mens om moed te skep en koers te hou! Dalk het die digter van Psalm 27 ook ’n soortgelyke ervaring gehad wat hom laat skryf het: Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees?

In die tyd waarin ons lewe, het baie van ons vrese werklikheid geword. Ons moet ons kinders steeds leer om dapper te wees. Afrika is nie vir bangbroeke nie! Dit is dikwels nog ’n donker plek, want so baie ken nie werklik die Here nie. Daar is altyd misdadigers op die loer om die een wat nie versigtig is nie, te oorval. Selfs onder ons eie mense slaan die donker al hoe meer toe. Kinders word groot sonder om te weet wat dit beteken om aan die Here se kerk te behoort. Oneerlikheid en ’n lewe wat van integriteit maar min weet, raak so algemeen om ons. Soos vissers van mense moet ons uitgaan tussen die mense. Ons Here, Jesus, leer ons om die evangelie van die koninkryk te gaan verkondig. Onthou, evangelie beteken “goeie nuus”! Dat God waarlik in beheer is, is goeie nuus. Dat ons Here ons in ons aardse nood en in ons ewige nood raaksien, is goeie nuus! Dat ons by die Here kan skuil, is goeie nuus!

Vir die mens wat leer om die Here te vertrou, is daar altyd ’n ligkolletjie voor in die pad om die oog op te hou. Wie op die Here vertrou, kan inderdaad saam met die digter van Psalm 27 uitroep: Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here!

Gebed

Liefdevolle Vader, help ons om moed te hou. Mag ons altyd ons oog hou op die lig van u verskyning in ons donker wêreld. Amen.

Ds Stephan Botha, Rustenburg-Suid

Share via
Copy link
Powered by Social Snap