Matteus 8: 23-27

Vrees is soms deel van ons elkeen se lewe. Oorywerig wil vrees baie graag my en jou hart met geluk deel. Geluk gee dan meestal maar bes. Sien jy ooit die twee saam – vrees en geluk? Kan iemand terselfdertyd gelukkig en bang wees? Nee. Vrees het nog nooit ’n simfonie of gedig geskryf nie en het nog nooit ’n siekte genees nie. Vrees het nog nooit ’n huwelik of ’n besigheid gered nie. Vrees jaag ons op ’n bondel soos ’n skaaphond ’n klomp skape in ’n kraal injaag…

Stel jou ’n lewe voor wat geheel en al onaangeraak is deur vrees. Wat as geloof, en nie vrees nie, jou eerste reaksie is op enige bedreiging in jou lewe? Wat as jy ’n vreesmagneet oor jou hart kon trek en seker kon maak dat jy ontslae raak van elke laaste stukkie vrees wat kon oorbly? Dit is die moontlikheid wat opgesluit lê agter Jesus se vraag aan sy dissipels, op die See van Galilea tydens die storm: Waarom is julle bang, kleingelowiges?

Matteus kies sy woorde baie versigtig om hierdie broeiende storm te beskryf. Hy kies die Griekse woord seismos wat eerder iets soos ’n verskriklike aardbewing was. Matteus gebruik seismos net by twee ander geleenthede: een keer toe Golgota gebewe het met Jesus se dood, en weer met Jesus se opstanding uit die dood – toe die begraafplaas gebewe het. Waarskynlik deel die storm wat Jesus stilgemaak het gelyke waardering in die trilogie van Jesus se groot opskuddings: die oorwinning van sonde aan die kruis, oorwinning oor die dood by die graf, en hier die oorwinning oor die see as die “woonplek van die Bose”.

Jesus hanteer die groot aardbewing met groot kalmte. Die see word so stil soos ’n gevriesde meer. Hy verander stormtyd in slaaptyd. Hy maak golwe met een woord stil. Is jy bang? Hy kan ook jou seismos stilmaak – Hy het die grootste storms in ons lewe, naamlik die sonde en die dood, onder bedwang gebring aan ’n kruis en in ’n graf. Hoekom is jy bang?

Ds Jimmy Manders, Witfontein

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link