Johannes 1: 35-42

Ek skakel ’n tehuis op soek na ’n spesifieke bejaarde persoon wat daar woon. Sy antwoord nie haar selfoon nie en reageer ook nie op my WhatsApp-boodskappe nie. Die dame wat die foon antwoord, vra my toe: Wat wil Mevrou hê? Natuurlik was ek gebelg: Ek wil niks hê nie! Gaan soek asseblief die bejaarde!

Vir ’n tweede keer verwys Johannes na Jesus as die Lam van God, hierdie keer in die geselskap van Andreas en ’n ander dissipel saam met Johannes. Wanneer hulle hierdie getuienis omtrent Jesus hoor, reageer hulle dadelik. Hulle volg Jesus. Ons moet nou onthou dat Jesus tot in daardie stadium nog geen wonderwerke verrig het wat mense van Hom kon gehoor het nie. Toe Jesus omdraai en sien dat hulle Hom volg, wou Hy van hulle weet: Wat wil julle hê? Dit is ’n soort kettingreaksie. Ja, wat wil hulle eintlik hê?

Gewoon weet wáár Jesus tuisgaan: Rabbi, waar bly U? Die antwoord-uitnodiging is: Kom kyk! Sou hulle plek soek om te plak, regtig op soek wees na blyplek? Of was dit suiwer nuuskierigheid? Eintlik ’n inherente behoefte aan ’n tuiskoms? ’n Geestelike tuiste? Met hulle gebeur die wonderlike, hulle beleef ’n tuiskoms. Hulle het Hom gesien en gekry waarna hulle soek.

Johannes vertel vir ons van mense wat op soek is en wat ’n tuiste vind in Jesus. Geloof is ’n waagstuk, want dit ruik na die kruis wat vir die wêreld na pure dwaasheid klink. Weet ons wat ons van God wil hê wanneer ons Hom volg – daar in die alledaagse lewe, wanneer ons in stilte in gebed met Hom is, wanneer ons besluit of ons kerk toe wil gaan vanoggend of nie? Dit wat Hy bied: Is dit goed genoeg of waarna ons soek?

Andreas kon nie die nuus vir homself hou nie. Hy gaan deel die goeie nuus van die vonds met sy broer Simon. Dan sleep hy hom saam na Jesus. Jesus sien nie net wie Simon is nie. Hy weet wat die toekoms vir Simon inhou. Wat meer wil ons hê?

Ds Kathleen Smith, Kaapstad

Share via
Copy link
Powered by Social Snap