Johannes 3: 1-10

Nikodemus is ’n deurwinterde teoloog, ’n hooggeplaaste in godsdienstige kringe, nie alleen lid van die invloedryke Fariseërparty nie, maar selfs lid van die Sanhedrin. En tog nog soekend. Êrens het hy dalk ’n preek van Jesus gehoor en begin wonder of Jesus miskien hierdie groot gemis in sy lewe kan vul. Sy kollegas kan ’n besoek van hom aan Jesus dalk verkeerd verstaan, daarom die nagtelike uitstappie.

Wanneer Jesus hom sien, kry Hy hom eintlik jammer. Die muwwe, stroewe en strak godsdiens waaraan Nikodemus van kindsbeen af blootgestel is, is op sy lang, hartseer gesig te lees. Jesus evalueer Nikodemus se geestelike lewe en sê vir hom dat hy eintlik geestelik dood is. Jy kort ’n hele nuwe geestelike lewe, amper soos ’n nuwe geboorte. En, sê Jesus, weet jy hoe is en werk die Heilige Gees? Die Gees is soos die wind, die Gees is soewerein en onafhanklik. Die Gees is elke nuwe dag nuut, en wil ’n vrye en dinamiese verhouding met jou hê. Die Gees wil jou verras met nuwe dinge; die Gees wil op die wonderlikste maniere met jou werk.

Jy kan die Heilige Gees nie beheer nie, jy kan die Gees nie met reëls inperk nie, nie met konvensie omskryf en met wette in kanne en kruike gooi nie. Net so min as wat jy die wind in ’n kamer kan toemaak of in ’n ruimte kan inperk. Die Heilige Gees wil jou opgewonde maak oor God en van jou ’n lewende en dinamiese gelowige maak.

Maar dit is te veel vir Nikodemus, dit kan nie. En Jesus sê: Hoe tragies dat iemand ’n leeftyd in die tempel grootword, die skrifte ken, en niks van die opgewondenheid, die uitbundige vreugde en die heerlike vryheid van die aanbidding van God verstaan nie! Vandag nog is daar so baie Nikodemus-gelowiges. Geloof is die uitvoer van redelik oninteressante handelinge. Vir hulle wil die Heilige Gees ook soos ’n nuwe wind waai.

Gebed

Here, help my om vandag die nuutheid en opwinding van u Gees in my lewe te ervaar. Amen.

Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort

af
af
Deel met behulp van
Copy link