Matteus 5: 3; Markus 10: 13-18

’n Verslaggewer het die teoloog Karl Barth gevra om sy standpunt oor die inhoud van die Christelike geloof op te som. Barth het 12 dik boeke oor teologie voltooi. Hy sou ’n indrukwekkende verhandeling kon gee, maar hy het nie. In plaas daarvan het hy eenvoudig geantwoord: Jesus min my salig lot, ek weet dit uit die Woord van God. Jesus het my lief. Dit is al wat ek nodig het om te weet. Sonder sy liefde, is ek niks. Dit is wat afhanklikheid beteken.

Jesus wou ook aan sy dissipels hierdie eenvoudige beginsel verduidelik: Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie (Mark 10: 14-15). Waarna het Jesus verwys? Wat het kinders wat volwassenes kortkom? Hy het nie van volwassenheid, intellek, onskuld of gehoorsaamheid gepraat nie. Dit neem kindertjies nie lank om allerhande maniere uit te dink om kattekwaad aan te vang nie. Hulle vrae ook oneindig baie vrae. Hulle aanvaar nie sommer goedsmoeds enige antwoord nie.

Gewoonlik antwoord mense wat nie oor hul geloof wil dink of die moeite wil doen om vrae te vra nie, eenvoudig: Ek glo maar soos ’n kind. Dit gaan vir seker nie in hierdie teksgedeelte oor Ek vra liewer nie vrae nie, ek aanvaar alles soos dit is nie. Die kwaliteit waarvan Jesus gepraat het, is vertroue. Kinders vertrou hul ouers met hul hele wese. Hulle is tot niks in staat sonder hul ouers se sorg nie. Volwassenes se wagwoord is: Ek sal self, moenie raad gee nie! Aan die ander kant is absolute vertroue heel natuurlik by kindertjies. Kinders is tot niks in staat sonder die liefde en sorg van ’n ouer nie.

Gelukkig is diegene wat besef dat hulle sonder God se sorg en liefde tot niks in staat is nie. Gelukkig is diegene wat met volle oorgawe en oortuiging kan sê: Jesus het my lief. Dit is genoeg.

Dr Sanrie de Beer, Philadelphia

af
af
Deel met behulp van
Copy link