Prediker 12: 12-14

Wie gaan saam met my pannekoek bak? Pannekoek wat so lekker smaak. Melk en eiers, een koppie meel, meng die suiker en kaneel. Klits die eiers gou-gou en lekker eet ons netnou. Dit is die eenvoudige resep vir pannekoek waarmee ons grootgeword het, totdat ons dit eendag self moet bak en besef, dit werk nie heeltemal so eenvoudig nie.

Prediker worstel met dieselfde probleem. Die resep waarmee hulle grootgeword het vir ’n lewe van vrede en vreugde, is eenvoudig. Leef goed en goeie dinge gebeur, maar leef sleg en slegte dinge gebeur. Soos wat ons egter met die pannekoek geleer het, is dit met die lewe ook nie so eenvoudig nie. Die werklikheid wat Prediker, Psalms en selfs Job beskryf, is dat slegte dinge ook met goeie mense gebeur, en goeie dinge gebeur ook met slegte mense.

Daarom het Prediker hierdie resep van die lewe gaan beproef. Hy het dit gaan toets teen wysheid, dwaasheid, rykdom, armoede, luiheid en hardwerkendheid, en oral dieselfde gevind: Alles is tevergeefs en kom tot niks.

Maar beteken dit dat daar niks is om voor te lewe nie? Nee, Prediker noem tog dat daar gegewes in die lewe is wat ons moet leer aanvaar. Daar is verskillende tye; om in gemeenskap met mense te wees, is beter as om alleen te wees; om wysheid te hê en fluks te wees, is beter as om dwaas en lui te wees. Maar nie een van hierdie resepte werk perfek nie.

In vandag se teks is daar wel een resep wat werk. Hy noem dat mense resepte gaan soek en skryf tot aan die einde van die lewe, maar daar is net een resep wat die moeite werd is. Dien die Here en gehoorsaam die Here se gebooie. Met ander woorde, wees lief vir die Here met jou hele wese, en wees lief vir jou naaste en jouself. Hoekom is dit anders as die ander resep? Want nou volg ek dit nie vir myself nie, maar juis vir ander. Mag die Heilige Gees in ons, ons ook ’n nuwe lewensin laat beleef wat geanker is in diens en gehoorsaamheid aan God.

Ds Schalk Zastron, Ermelo

Share via
Copy link
Powered by Social Snap