1 Korintiërs 12: 4-7

Wanneer ek ’n gedeelte lees oor genadegawes, dink ek altyd aan my pa. Natuurlik is hierdie nou ’n dogter wat oor haar pa praat, maar ek glo dat ons almal by hom kan leer. My pa het die gawe om enigiets te kan regmaak. Hy het ’n magdom bronne en boeke wat hy gebruik om hom te help, maar ons weet dat as Pappa dit nie kan regmaak nie, kan niemand nie. My pa gebruik hierdie gawe van hom soms te min by die huis as jy my ma sou vra, maar hierdie gawe word in diens gestel van almal om hom. Onderwysers wat vir ons skool gehou het, die mense by die kerk, die mense saam met wie hy werk, vriende, familie (tot sy frustrasie soms), weet dat hulle altyd op sy knoppie kan druk as iets gebreek het.

My pa kan iets baie goed doen en hy hou dit nie vir homself nie. So werk die Gees binne elkeen van ons. Ons elkeen het ’n gawe, daar is party van ons wat vele gawes het: ’n jack of all trades. soos mense dit noem, en ander wat net die meester van een is. Tog is dit ons verantwoordelikheid om hierdie gawes wat ons het, in diens van ander te gebruik. Ons moet wel onthou dat ons nie elke liewe mens kan dien met ons gawes nie. Somtyds is daar ’n plek waar ons gawe nie gebruik kan word nie. Ons het dan die verantwoordelikheid om toe te sien dat ander ook hul gawes ontwikkel en gebruik waar dit nodig is.

Ons is geseën deur die Gees van God en ons kan daardeur dien op verskillende plekke. Gebruik jou gawes! Nie net vir jouself nie, maar ook tot voordeel van almal.

Gebed

Here, U seën ons met gawes. Help ons om dit in diens van U en die mense rondom ons te gebruik. Amen.

Ds Yvette Scholtz, Magaliesmoot

Share via
Copy link
Powered by Social Snap