Efesiërs 6: 18-20

Ons is nog besig om te kyk na gebed as ’n wapen, en vandag kyk ons na die teiken van hierdie wapen. Wanneer ’n vuurwapen uit die kluis gehaal word en jy laai dit, is daar gewoonlik ’n teiken waarop dit gerig word. Die teiken kan ’n bok wees wat jy wil skiet, of bloot ’n teiken op ’n skietbaan. Wanneer jy nie na ’n teiken mik nie, skiet jy niks raak nie. Die teiken waarop die vuurwapen gerig word, sê dat jy doelgerig is en weet wat jy wil skiet.

Met gebed moet dit presies ook so wees, maar dikwels is dit nie die geval nie. Dikwels bid ons sonder dat ons vir iets bid. Ons kan so in die algemeen bid en dieselfde woorde herhaal, dat ons eintlik niks sê nie. Dit is dan dat dit vir ons voel asof ons gebede nie verhoor word nie. In Efesiërs 6: 18-20 vra Paulus dat daar vir al die gelowiges en dan ook vir hom, spesifiek as hy preek, gebid moet word. Dit is belangrik dat daar gebid word vir gelowiges, aangesien ons daagliks in ’n stryd is teen die sondige dinge. Aangesien ons as gelowiges die teiken is van die bose, moet die teiken en fokus van ons gebede ons medegelowiges wees.

As ons net kyk hoe baie huwelike op die rotse is, hoe baie kinders verwaarloos word, hoe baie mense hul werk verloor of nie werk kry nie, hoe moeilik dit met gemeentes gaan en hoe baie ekonomiese uitdagings daar is, moet ons in ons gebede juis daarvoor voorbidding doen. Ons moet ons afhanklikheid van God erken en bely, maar dan ook ons hulp en krag by Hom soek en biddend wag dat Hy voorsien.

Waarvoor bid ons? Wat is die fokus of teiken van ons gebede? Ons kan met vrymoedigheid ons hulp en troos by God ons Vader soek en weet dat Hy sal voorsien. Moenie huiwer om jou hart voor die Here uit te stort nie.

Dr Martin Jansen van Rensburg, Delmas

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link