Lukas 17: 11-19

Jesus is op pad na Jerusalem. Op die grens tussen Galilea en Judea, naby ’n klein dorpie, stap tien mans Hom tegemoet. Hulle moes iewers van Jesus gehoor het. Wanneer hulle Jesus sien, bly hulle op ’n afstand staan en roep: Onrein-onrein! Hulle was melaats, en dus onrein in die oë van hul gemeenskap. Onrein, wat ook beteken het hulle val buite die genade van God. Siektes soos melaatsheid was in hul oë ’n teken van God se straf op die sonde, daarom was die siekes onrein. Melaatses is uit die dorpies en stede gedryf en moes ver buite die stad op die ashope, in die berge en oop vlaktes van die woestyn gaan oorleef. Ter wille van oorlewing het hulle in groepies beweeg, soos die tien mans van ons verhaal.

Jesus beveel hierdie mans om hulself vir die priester te gaan wys. Hul geloof word deur hierdie opdrag van Jesus getoets: Hy maak hulle nie dadelik gesond nie, nee, Hy sê hulle moet hulle vir die priester gaan wys. Hulle sou sekerlik kon sê: Haai, wag ’n bietjie, Jesus, ons is nie gesond nie; maak ons eers gesond voordat ons onsself belaglik voor die priester gaan maak. Maar hulle doen dit nie, want geloof is om om te draai en te gaan, al kan ek nog nie die einde sien nie. Hulle het gehoor, en nou glo hulle. Hulle begin dadelik verder stap. Hulle doen dit met die geloof dat hulle genees gaan word. Toe hulle by die priester kom, is hulle genees en hy verklaar hulle rein en laat hulle weer in die samelewing opneem.

Hierdie verhaal wat Jesus vertel het, het ’n tragiese einde. Daar was tien mans wat genees is, maar net een van hierdie mans kom sê dankie. Die nege mans wat nie teruggekom het nie, simboliseer die tragiese werklikheid van die mensdom. Die mensdom is so ontsettend ondankbaar oor God se genade, liefde en ontferming.

Ds Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein

af
af
Deel met behulp van
Copy link