1 Korintiërs 15: 5-8
Dit verg nie geloof om te glo dat Jesus gesterf het nie, maar om in die wonderbaarlike, liggaamlike opstanding van Jesus te glo, verg groot geloof. Mense word nie net weer lewendig nadat hulle vir 36 uur dood was nie! Die waarheid is dat die opstanding nie meer geloofwaardig in die eerste eeu was as wat dit in die 21ste eeu is nie. Dit is waarom Jesus herhaaldelik aan verskillende mense verskyn het, nie net aan sy naaste dissipels nie, maar ook aan twyfelaars.
In die boek Handelinge beskryf Lukas die talle ontmoetings met die opgestane Christus. Lukas was nie iemand wat dekades later van die opstanding gehoor en daaroor berig het nie, hy was self ’n persoonlike metgesel van Paulus en ander eerstehandse getuies van die lewe, dood en opstanding van Jesus (Luk 1: 1-2). Lukas beklemtoon die feit dat die verskynings van Jesus werklik was. Eerder as om subjektiewe visioene en drome te wees, was dit werklike groepservarings met die opgestane Verlosser – om saam met Hom te loop, saam met Hom te eet, Hom aan te raak en met Hom te praat.
In 1 Korintiërs noem Paulus nie minder nie as ses verskillende episodes van Christus se verskyning (15: 5-8): aan Sefas (Petrus), aan die twaalf, aan tot meer as vyfhonderd op een slag, aan Jakobus (die broer van Jesus), aan al die apostels, en aan Paulus self.
Met hierdie berigte wil Paulus seker maak dat daar geen twyfel in die gedagtes van honderde oorspronklike dissipels was en by ons sal wees nie dat Jesus van Nasaret wonderbaarlik uit die dood opgestaan het. Fisies – in dieselfde liggaam wat gekruisig en begrawe is – is Jesus herstel én verheerlik, sy liggaam verander in ’n volmaakte, onsterflike toestand, nie meer vatbaar vir lyding en dood nie. Geskik vir heerlikheid, het Jesus Christus die dood oorwin, nie net vir Homself nie, maar ook vir almal wat in Hom sou glo vir die ewige lewe. Ook vir ons. Hy het nie net vir ons gesterf nie, maar ook opgestaan.
Ds Willem Sauer, Waterberg
