Psalm 93

Die skrywers van die Psalms het die gawe gehad om so oor God te skryf dat dit duisende jare later, in totaal verskillende lewensomstandighede, nog net so relevant is as wat dit toe was. God wat toe Koning was, is ook nou Koning. God wat van altyd af daar was, ís nog hier.

Dit is nie net die Psalmdigter wat die grootheid en mag van God besing nie – die natuur doen dit ook. Die grootheid en die gedruis van die watermassas beskryf indirek die grootheid van God self.

Die realiteit is dat die woorde wat ons gebruik om God te beskryf, ver tekortskiet. God is almagtig, maar God is ook meer as dit. God se majesteit strek oor alles wat lewe, maar dit strek ook verder as dit. Wat God alles is, is bo ons begrip. Dit is hoe groot God is. God se majesteit word gesien in die groot dinge en die harde geluide, en dit dwing ons om weer te erken hoe groot en magtig God is.

God se majesteit word egter ook in die klein en amper onhoorbare dinge gesien. Dit is die nuwe dag wat ons kan aanpak, wat ons as vanselfsprekend aanvaar. Dit is die bemoedigende klop op die skouer na ’n moeilike dag. Net omdat daar nie elke keer ’n storm of vuurwerke is nie, beteken nie dat God nie met ons praat nie. God is besig om met ons te praat deur die groot dinge sowel as die klein dinge. Hoe wonderlik is dit nie dat God ’n manier het om met elkeen van ons te praat, sodat ons nie net sal hoor nie, maar ook sal verstaan?

As ons na God se stem luister, kan ons nie anders nie as om met lof en liefde te reageer, net soos die Psalmdigters van ouds.

Ds Nastasia Vosloo-Steyn, Donegal/Molopo-kombinasie

af
af
Deel met behulp van
Copy link