Markus 1: 1-11

Johannes die Doper verkondig ’n doop van bekering met die oog op vergewing van sondes. Moes Jesus gedoop word omdat Hy bekering of vergifnis van sondes nodig gehad het?

In Jesus se tyd is mense se waarde bepaal deur hul sosiale verbintenisse, in die besonder die status van hul familie. Vroue en kinders se eer of skande was slegs ’n verlengstuk van dié van die manlike hoof van die huishouding. Dieselfde het gegeld vir of hulle deel was van die volk van God.

Die laaste keer dat Josef, Jesus se aangenome vader (sy regte vader volgens die mense wat hulle geken het),  genoem word, is waar Jesus op 12-jarige ouderdom by die tempel agterbly (Luk 2: 41-52). Een jaar voordat Jesus op 13 sy eie identiteit as volwasse man sou aanneem. Wat ook al van Josef geword het, hy verdwyn vroeg van die toneel af. Jesus word daarom nie deur sy gemeenskap as volwaardige kind van Abraham beskou nie. Enige Judeër wat nie ’n volwaardige kind van Abraham is nie, is as ’n sondaar beskou. Dis hoe die sisteem gewerk het. Die sonde wat vergeef word, is dus nie ’n individuele oortreding van God se wette nie, maar die sistemiese sonde wat die samelewing om Jesus se nek hang. Jesus word onskuldig gekruisig, maar reeds voor dit word Hy onskuldig gedoop.

Die Vader se bevestiging dat Jesus sy geliefde Seun is, verklaar dat die onregverdige norme en gebruike van die samelewing nie bepaal wie of wat Jesus is, of die werk wat Hy vir sy Vader doen nie. Dié wat uit vroomheid daardie norme wil handhaaf, moet aanvaar dat die doop die “oortreding” ongedaan maak, of erken dat hul vroomheid slegs venynigheid is. Ons bely ’n doop tot vergifnis van sondes en bedien dit aan onskuldige babatjies. Wat die samelewing ook al om ons hals hang, dit bepaal nie wie of wat ons is, of die werk wat ons vir ons Vader doen nie. In die koninkryk van God wat Jesus verkondig, is ons identiteit: kinders van God.

Ds Gerrit-Daan van der Merwe, Strand

af
af
Deel met behulp van
Copy link