Psalm 121

Pelgrimsreise was meestal nie maklik nie, veral nie van afgeleë dele af nie. Lang afstande is meestal te voet afgelê, soms deur onherbergsame en gevaarlike streke. Psalm 121 vertel van ’n pelgrim wat beangs opmerk dat hulle reis deur ’n gebied waar afgode gedien word. Hy vrees onheil van hul kant af. Die berge in ons vertaling kan ook hoogtes beteken. Die Kanaänitiese vrugbaarheidsgode is op hoë plekke gedien, want dit is “nader aan die hemel”! Angstig roep hy: Waar sal ons hulp vandaan kom?

Sy medepelgrim antwoord gerusstellend met ’n belydenis, wat tegelyk ’n bespotting van die afgode is. Die pelgrims se hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Hy sal verseker dat hulle die bestemming bereik: die heiligdom waar hulle God sal ontmoet. Daarom vrees hy nie gode vir wie mense hope grond moet maak om nader aan hulle te kom nie. God het skeppingsmag. Mense skep nuttelose afgode, wat soms insluimer sodat aanbidders hard moet roep om hulle wakker te kry! Só is God nie. Hy slaap nie en beskerm die pelgrims deurentyd. Nie net pelgrims nie, sy hele volk. Die Kanaäniete het die hemelliggame soos die son en maan as gode gevrees en aanbid. Maansiekte (epilepsie) en sonsteek (hitte-uitputting) is byvoorbeeld gevrees as toedoen van hierdie twee “gode”. Die medepelgrim gaan voort en bely dat die son en maan pelgrims nie kan skaad nie. Hulle is gewoon deel van God se skepping. God sal die gelowiges beskerm op hul pelgrimsreis, soontoe en terug. Die boodskap is dat op pad om God te ontmoet, is God elke tree beskermend naby.

Christene se lewens is nie maklik nie, want dit is ’n leefwyse van sterwe aan jouself. Ons geloof gee ons ook nie beheer oor die lewe sodat ons teëspoed en verlies kan afweer nie. Ons ken daarom onsekerheid, kommer en angs. Die evangelie bemoedig ons met Jesus se erenaam Immanuel, want Jesus se sterwe waarborg dat wat ook al gebeur, God altyd liefdevol by ons sal wees, elke tree van ons lewe op pad na God.

Gesang 511: 1-2

Dr Gert Malan, Mosselbaai

af
af
Deel met behulp van
Copy link