Lukas 23: 46a

Nog ’n opmerklike verskil van die Markus-evangelie, is Lukas se weergawe van Jesus se sterwenswoorde. By Markus sterf Jesus met ’n uitroep van Godverlatenheid. Lukas vertel Jesus sterf biddend, sy gebed tegelyk ’n kreet. Waarom die verskille?

Die Evangelies is nie ooggetuieverslae nie, maar geskryf met elke evangelis se eie verstaan van die Jesus-gebeure en met die leefwêreld van eietydse gelowiges in gedagte. Sodoende bied hulle antwoorde op destydse vrae en probleme. Die evangeliste het daarom elkeen hul eie aanpak gehad om bronne aan te wend en vertellings aan te bied. Dit gaan dus oor verkondiging, nie historiese akkuraatheid en feitelikheid nie. Die Evangelies is geloofsdokumente, nie geskiedenisboeke nie. Dit wou mense tot geloof lei en in geloof versterk, nie laat stry oor wat Jesus presies sou gedoen en gesê het nie. Christene is daarom nie mense van ’n teks nie, maar van Iemand waaroor die tekste getuig.

Lukas vertel van Jesus wat biddend sterf. Hy spreek God as sy Vader aan en herhaal die woorde van Joodse kindertjies se aandgebed. Die bedoeling is duidelik. Net soos die kindertjies bid dat God hulle deur die donker nag se slaap veilig sal bewaar om die volgende oggend weer op te staan, so bid Jesus met die oortuiging dat sy Vader Hom sal bewaar deur die dood heen tot dit tyd is om op te staan. Dit is ’n vertrouensgebed en ’n vertrouensroep. Die kreet maak die gebed ’n stelling, ’n preek, ’n stuk verkondiging, soos Jesus se hele lewe was.

Om met so ’n gebed te sterf, is sekerlik elke gelowige se begeerte. So het Martin Luther ook gesterf. Dit is egter nie ons almal beskore nie. Waartoe Jesus se sterwe en gebed ons bevry, is dat ons lewe, soos Syne, ’n stuk verkondiging mag wees: nie oor onsself, oor ons vroomheid of prestasies nie, maar oor die genade van God wat ons ontvang het toe Jesus biddend sterf. Daardie genade bevry ons tot liefdesdiens as ware lewe en vervulling.

Gesang 530: 1-3

Dr Gert Malan, Mosselbaai

af
af
Deel met behulp van
Copy link