Psalm 18: 1-25

Hierdie Psalm het Dawid geskryf nadat hy uit verskillende soorte nood verlos is: Hier naby aan die einde van sy lewe kyk hy terug op veldslae en oorwinnings, maar ook op tye toe hy moes vlug omdat sy lewe in gevaar was. Hy besing en loof God wat hom altyd gehelp het, en hom gered het van gevaar en van sy vyande.

Hy beskryf hoe God woedend geantwoord het as hy om hulp geroep het: Met rook en vuurvlamme, donker wolke, wind en bliksemstrale het die Here gekom om Dawid se vyande te verjaag, so beskryf Dawid dit! God het selfs die magtige waters van die see oopgekloof in sy toorn. ’n Magtige watermassa, ’n groot vloed, strome water is in die Ou Testament dikwels gebruik om mense se magteloosheid teen ’n groot bedreiging te beskryf, ’n gevaar wat te groot is om teen te veg, en wat net chaos kan bring. Dawid beskryf die bande van die dood wat hom omsluit as strome van onheil.

Maar die God wat in die begin sy skeppende woord gespreek het oor die watermassa, wie se skeppende Gees oor die water gesweef het en nie oorweldig is nie, Hy het vir Dawid die seebodem blootgelê, soos by die Rietsee, soos toe die Israeliete deur die Jordaanrivier moes trek. Hy het sy hand uitgesteek en sy kind, Dawid, vir wie Hy lief was, uit die geweldige waters gelig. Die Here het sy kinders, en vir Dawid, telkens gered as die oormag en die bedreiging en die dreigende chaos vir hulle te groot was. As mense hom aangeval het, was dit vir Dawid soos ’n groot vloed wat hom wou oorweldig, maar die Here het hom van ondergang bewaar.

Is daar in jou lewe ook bedreigings? Gevaar? Probleme wat vir jou te groot is, wat jou gaan oorweldig? Onthou dat God wat alles gemaak het, dit in stand hou, en dat Hy regeer oor watermassas, vloede en bedreigings. Kom ons gaan dus in vertroue na Hom en smeek om sy hulp, en weet dat Hy deur geen chaos oorweldig sal word nie.

Ds Milankie van der Walt, Namib-Suid

Share via
Copy link
Powered by Social Snap