Esegiël 15

Hoe bereik ons ons Godgegewe doel op aarde? Waar ontdek ons daardie doel? Een van die antwoorde op hierdie vrae vind ons in Esegiël 15. Hierdie hoofstuk val in die eerste helfte van die boek waar die oordeel van God oor die sonde van sy volk aangekondig word. Die ballingskap van 586 vC is die agtergrond waarteen die eerste paar hoofstukke verkondig word. Esegiël sien in ’n visioen God se bedoeling met hierdie ontaarde volk Israel! Hulle het nie op die waarskuwing in Esegiël 14: 6 ag geslaan nie. En nou is God hierdie volk se teenstander wat hulle sal verbrand, so maklik soos wat wingerdhout verbrand word.

Die wingerdstok is sekerlik een van die edelste plante in die Ou Testament, met die uitsluitlike taak om druiwe voort te bring. As dit nie daartoe in staat is nie, is die doel nie bereik nie. Dit is waar Israel gefaal het. Hulle dra nie die vrugte soos wat die boer verwag nie.

Is dit waar van ons? Dra ons die vrugte wat God van ons verwag, die vrugte wat ons doel moet weerspieël?  Watter vrugte behoort ons te dra? Johannes 15: 1-4 bied insig! Dit is in die Ware Wingerdstok dat ons geënt is, waar ons die vrugte ontdek wat ons moet dra.

’n Beter vraag om te vra, is: Vir watter doel wil God my gebruik? Eenvoudig – God kom soek by ons net die vrugte wat ons veronderstel is om voort te bring. God verwag nie dat ons iemand anders se werk moet doen nie, net die deel wat van ons verwag word. As ons nie daarin slaag om vir Hom te gee wat ons s’n is om aan te bied nie, sal Hy niks anders by ons kry nie. Hierin is ’n hele lewensfilosofie wat neerkom op een saak: Ons taak, ons primêre doel, is om God te verheerlik in woord, gesindheid en daad! Israel het vergeet om vrugte van geregtigheid en barmhartigheid te dra. Ons mag nie! 

Gesang 273: 1-4

Ds Quinten Schimper, Krugersdorp/Krugersdorp-Wes

af
af
Deel met behulp van
Copy link