1 Korintiërs 15: 12-19

Die Griekse filosoof Plato (427 vC) se siening dat die siel onsterflik is, het vir baie eeue sterk invloed op die kerk uitgeoefen. Tot vandag is daar gelowiges wat daaraan glo. Die kerk het eeue gelede reeds teen hierdie siening van Plato gekies deur die belydenis van die opstanding van die liggaam. Die Bybel verwys nie na die mens se siel wat ontsterflik is nie, maar na die mens as lewende wese. Die mens is ’n eenheid in lewe, in sterwe en in opstanding.

Tog bly hierdie eenheid ’n geheimenis, want my persoonwees is nie ’n volledige identifisering met my liggaam nie. Blindes en ander gestremdes is tog méér as hul gestremdheid – hulle is persone in eie reg. Stephen Hawking, die grootste wetenskaplike sedert Einstein, het aan motorneuronsiekte gely, ’n erge verlammende siekte. Al was sy liggaam afgetakel, was hy steeds ’n persoon met integriteit.

Om aan die opstanding van die liggaam te glo, is anders as om aan die onsterflikheid van die siel te glo. Om uit die dood op te staan, is nie ’n aangebore kwaliteit van die mens nie. Dit verg ’n daad van God, want die mens gaan tot niet, hy sterf soos ’n dier (Pred 3: 18-19). Om uit die dood op te staan, beteken ons word deur God heeltemal nuutgemaak.

Om die onsterflikheid van die siel te onderskryf, is ’n negatiewe uitspraak, want jy sê bloot: My siel kan nie sterf nie. Om die opstanding van die liggaam te bely, is ’n positiewe uitspraak: Die ganse mens het gesterf, maar word deur God tot lewe teruggeroep. Iets moet hier gebeur – ’n wonder. Nooit is ons hoop by die graf gerig op ons eie voortreflikheid nie. Ons hoop lê by Christus deur wie daar vir ons ’n onbeskryflike verlossing gekom het. In ons totale uitsigloosheid het daar ’n drastiese wending gekom – Christus het die bande van die dood kom verbreek. In Hom het die koninkryk naby ons gekom.

Gesang 417: 1-2

Ds Petri de Kock, Pierneef

af
af
Deel met behulp van
Copy link