Sefanja 3: 9-13

Ek wil die Naam van die Here roem. Prys ons God om sy grootheid! Hy is die Rots, sy werk is volmaak, alles wat Hy doen, is regverdig. Hy is die getroue God, sonder onreg. Hy is regverdig en betroubaar (Deut 32: 3-4). In ’n wêreld van wisselvalligheid en wispelturigheid is die Here die Een wat getrou bly, wat nie verander nie, op wie ’n mens jou vertroue te alle tye kan stel.

Sefanja se boodskap is toekomsmusiek. Ja, die oordeel van God oor die nasies en oor Jerusalem is onafwendbaar. Hulle het nie geluister na die Here God nie. Juda het nie geluister nie en die oordeel van die Here kom. Die oordeel is egter nie net die einde nie, maar ook die begin van ’n nuwe era. Nederigheid vervang die hoogmoed, selftevredenheid en opstandigheid. Waar daar onreg was, verander dit. Teenoor die verskrikking van die dag van die Here (Sef 1: 14-18), is daar nou niemand wat skrik of bang is nie. Mense is nou soos ’n kudde wat in rus en vrede wei. Sowel die volk Juda as die nasies het gedeel in die oordeel van die Here, maar net so het albei begin met die verering van die Here.

Dit is die Here wat die groot verandering bring. Ja, Hy bring die oordeel, maar Hy beëindig dit ook. Dan is dit die begin van ’n nuwe era van seën en voorspoed.

Met Christus se koms het ook ’n nuwe era aangebreek, die koninkryk het naby gekom. Ook ons as Nuwe Testamentiese gelowiges is gevul met ’n nuwe verstaan en met hoop. Met die Covid-19-krisis wat die hele wêreld geraak het, het ons ook gesien hoedat mense wat die Here vroeër nie geken of wou aanbid het nie, Hom begin dien.

Wat ons in Sefanja 3: 12-13 lees, laat ons ook besin. Waar op die Here vertrou word, gebeur daar iets. Die nuwe toekoms breek aan. Jesus het daardie toekoms vir ons moontlik gemaak. Laat ons Hom daarvoor eer met die gehoorsaamheid en afhanklikheid waarmee ons leef.

Ds Kathleen Smith, Kaapstad

af
af
Deel met behulp van
Copy link