Lukas 7: 11-17

Elkeen van ons kan stories vertel van tye toe ons geglo het dat sekere aspekte van ons lewens dood is. Daar was al in elkeen van ons se lewens tye wanneer ons voorraadopname van ons lewens gemaak het, en gewonder het of ons nie maar eerder sekere aspekte van ons lewens moet begrawe nie. Daardie aspekte kan baie dinge wees: Dit kan ons hoop, ons drome, ons ideale, ons strewes, ons roeping of ons passies wees.

In Lukas 7 vertel die evangelis vir ons ’n verhaal van ’n weduwee wat haar enigste seun aan die dood afgestaan het. Jesus, sy dissipels en ’n menigte mense is by die ingang van die dorpie Nain bymekaar en aanskou hoe die liggaam van die oorlede seun die dorp op ’n draagbaar uitgedra word. Die moeder van hierdie seun huil. Ons verstaan dalk nie vandag die diepte van haar seer nie. In die deur mans gedomineerde wêreld waarin sy haarself bevind, het sy nie net haar seun verloor nie, maar ook alle hoop op toekomstige sorg en steun. Haar lewe het skielik donker geword.

Jesus sien die weduwee raak en kry haar innig jammer. Ons sukkel om die emosie te vertaal wat Jesus op daardie oomblik ervaar het. Die innige jammerte wat Jesus hier beleef, suggereer iets van ’n draai van die ingewande. Jesus se ingewande draai as’t ware van die innige jammerte wat Hy ervaar. Jesus voel nie net jammer nie, maar raak ook die draagbaar aan, en die seun lewe weer. Dit wat reeds op ’n draagbaar uit die dorp uitgedra is, omdat almal geglo het dat die seun lankal al dood is, word in die hande van Jesus weer lewendig.

Ek wil nie eenvoudige antwoorde gee op al daardie dinge wat ons reeds op die draagbaar neergelê het, omdat ons geglo het dit lankal reeds dood is nie, maar dalk is daardie dinge nie dood nie? In die hande van die Here is daar dalk tog lewe in daardie bene wat ons glo lankal reeds droog is?

Ds Steve Oxton, Wapadrant

Share via
Copy link
Powered by Social Snap